Sunday, November 18, 2007

Wentelbaan

Radio Jakaranda blêr deur my verstand,
Songs waarop ons eens wou dans
terwyl my oë verlangend
na jou foto staar.

Die woorde gryp my,
draai dit in ‘n wentelbaan van herinneringe
van my, van jou,
en ons twee saam

Ons twee, soos die son en maan;
Die een se bestaan
afhanklik van die ander se glans
In die wentelbaan van die heelal se dans,

maar tog so ver verwyder
van mekaar

Al wat ek vra

Al wat ek vra...
Is liefde.
Die sagte warmte
van jou vroulikheid.
Jou sagte hand
oor my wang.
Jou kop
op my bors.
Jou hand in myne
opgekrul onder jou ken.
Jou oë
geslote in slaap
en ‘n onkeerbare glimlag
op jou gesig
en jy weet
ek weet
al wat jy vra
is liefde.

The price of love

My mouth dries up
in anticipation of your kiss
with my eyes searching yours
for that glimmer of love.
My hands are shaking and sweating
drying up the words
I would love to say
about how I feel.
My heart beats out loud
signaling my love
for you…
the one I fear to touch

And my soul
paying the price of love.

Gemaskerde girl

Woorde flits voor my verby
in en uit my foon.
Sms’e oor die verlede, vandag
en die drome van more;
Woorde van verlange,
woorde van hoop,
woorde van ‘n more
en my droom daarvan.
Gemaskerde girl
aan die ander kant;
Waarom die masker,
waarom die waansin,
waarom die geheim
om jouself so te versluier.

Fluistering van ons harte

Suidooster gaan lê; mis op Tafelberg verdwyn
vissermanne kyk na die groot blou
en verlange neem oor: ons moet uit
na die groot blou, dis die lewe
onstuimige golwe bedaar
en die groot blink lywe verskyn
land in die skuit, vir jou en my
om ons te verlustig by Snoekbraai
en ‘n glasie wyn.
Ek sit en kyk na die groot blou hemele
en verlange neem my hart; my woorde moet uit
na jou, die een in my hart
jy het die onstuimigheid in my laat bedaar
en jou groot blink oë
het liefde in my hart laat brand: vir jou en my
om ons te verlustig

in mekaar

Vensters

Ek kyk deur die venster van my lewe.
Gister,
besig om in die wasige mis te verdwyn,
en more
gevorm uit die herinneringe van gister
helder verlig deur jou
op die pad
waarop ek my vandag vind
en jy,
my Venus,
jy is langs my
besig om saam met my
te kyk deur ons venster
van die lewe.

My huis

Ek het nooit geglo
dat daar liefde daar buite is
wat net vir my wag.
Ek het liefde gesien
gevoel
en beleef
maar nie geglo.
Nou staan ek hier
met geloof in my hart
en ek is reg

om huis toe te kom.

Vervliet

Bewende hande
met die ontmoeting van ons oë
wat lank na mekaar verlang het.
Polsend en bruisend
die hart van my
in oënskou van jou,
die een wat my hart vashou
maar tog laat gaan het,
wat my gedagtes vul,
in die nag
my drome vul
en my die pad wys.
Jy, die een
wat my nou hier verby.

Vuur van liefde

Die vuur van liefde
brand diep in my hart.
Die vlam tonge lek om my verstand
en wek verlange in my hart
na jou
die een in my drome van more
wat my hart gaan verower,
my glimlag gaan laat verskyn
en my verstand gaan meesleur
in hemelse bekoring.
Kom, laat brand die vuur van liefde in my,
steel my siel
en hou hom veilig
in jou hart

Roose en drome

Die mense dink daar is ‘n pot goud
aan die einde van die reënboog,
daar ‘n silver rand is
om elke wolk
en ‘n rooi roos
nooit sy kleur verloor
maar vir my
is daar goud in jou elke glimlag,
‘n silver rand om my hart
met jou elke aanraking
en soos die roos
sal my liefde
vir jou
nooit verdof.

Ons gemaskerde boodskappe

Van agter masker en skuilnaam
lê die spore van die verlede.
‘n Foto bestaan wel
maar lyk geleen uit
die skinderblad van die huisgenoot.
Wel geletterd kan ek toeskryf aan haar,
die een wat wegkruip agter die donker lense van haar brilraam
en versigtig trippel tussen die res wat
van agter masker en skuilnaam skuil.
Party met baie woorde,
ander met min,
soms net ‘n deurmekaar gebrabbel oor
‘n gebroke hart,
verlore vriend,
ander weer oor “sex” en wel lus
en soms oor God en die natuur
van agter masker en skuilnaam gesien.
Ons versteek onself op papier,
elke woord,
elke sin,
elke vers
sodat ons hart en verstand kan versoen,
ons weer kan asem haal
en ‘n oomblik se hemelse vreugde kan beleef
van agter masker en skuilnaam

sodat ons ons boodskap
vir ander kan stuur.

Een in my drome

My gedagtes worstel met my siel,
rasionaliseer,
kritiseer,
arbitreer
en voer oorlog binne in my.

Skielik,
kalmte,
rus en vrede
terwyl ek my jeug verby
en jy, die een in my drome,

kom hou my vas,
kom hou my styf vas.

Lee oomblikke

Daai gedeelte van my wat
ek gedink het gebroke was,
daai lee broos gedeelte van my hart
was die hele tyd gevul
met liefde van jou.

Druppels

Net soos druppels water
hul weg vind
van kleine fonteine
tot die grote oseaan,
so vloei die druppels van my liefde
uit my hart,
deur my lyf,
gedagtes
en woorde
na jou.
Jy, met jou sagte oë
hou jy my hart vas,
jou glimlag
laat my gedagtes sweef,
jou sensuele vroulikheid
word weerspieël in my elke woord
en ek,
verlore in ons oseaan van liefde.

Dagbreek

Jy was my sonlig
met die breek van die dag.
Met helder pastel kleure
het jy die duisternis verdryf
en my wêreld verlig
sodat ek myself kon vind.

Nou is jy
net in die gange van my gedagtes.
My hart kon nie verstaan
hoe die son al helderder kon skyn
sonder jou
styf langs my.

My verstand lig my voet
in die voetspoor van more
en laat gister
in die skadu’s van vandag
en my oog
op die aanskoulike dagbreek.

Verlore woorde

Ek probeer woorde tik
maar hul verdwyn in tyd.
Ek probeer hul spreek
maar my tong klief my mond.
Ek probeer hul skryf
maar my pen klad net my papier.
Ek probeer gedagtes van jou vermy
maar dit laat my oë wasig

en my hart
rou.

My broederskind

My gedagtes vlug oor die heuwels.
Broederskind in twee geskeur!
Twee mense se beloftes van trou
Verander tot koue haat.
Nou staan die broederskind hier,
trane oor sy wang.
Huil oor sy pa
wat in oomblikke
vervang gaan word
met ‘n ma
in ‘n deurmekaar wêreld
wat hy glad nie kan verstaan
waar liefde vervang word
met tweespalt en haat.

Miljoen soene

‘n Miljoen soene was ek belowe
die dag op daai stoep.
sagkens in mekaar toegevou
beloof ons oë trou.

Sag het die son onder gegaan
terwyl branders om ons breek.
Die maan was sekel
en ‘n traan het gedrup en Venus se glans verbreek.

Die pad na jou hart was so mooi.
Beloftes van liefde, sonder haat,
sonder pyn,
sonder al die seer.

Nou is daar net ‘n verlange na daai miljoen soene
verlore op Stilbaai se skulpgruis sand.

My vraag

Hoe vra ek my verstand
om die beelde
van jou
weg te bere
in ‘n diep donker kloof.

Hoe vra ek my gees
om jou stem
weg te werp
na nêrens
om dit nie weer te hoor.

Hoe vra ek my siel
om jou te verlaat,
sy huis te vernietig
sonder om self
te vergaan.

Hoe vra ek myself
om jou naam te vergeet,
dit nooit weer te spreek.
Jou energie in my
te laat sterf

en soos ‘n dooie bladsy
om te blaai.

Die dag na more

Eendag
‘n woord
gebore uit gister
hoop op more
gedagtes
van ‘n man
moedeloos verlief
sy droom...
dog realiteit
woorde
eens gespreek oor vrese,
die goeie
en oor eendag
die dag na more.

Lug leegte.

Daai leemte in tyd
waar klank verdwyn
en my traan doelloos deur die lug sweef
tot die volgende teug hemel.

Stilbaai se branders

Branders breek bonsend en bruisend
oor die wit skulp strand
reg voor die stoep
waar ek is.

Ons oë, vol van liefde.
Lywe, warm teen mekaar.
Elk met ‘n glas wyn;
Daar vind ons oë mekaar.

Nou lê my hart verlore
hier tussen die skulp gruis
en ek gryp naarstigtelik
na al die stukkies herinneringe

met elke vee van water
oor die skulp bedekte strand.

My winter stoep

Ek sit hier op my winter stoep.
Die somer son bak op my neer,
maar my lyf bly koud.
My siel bibber in die skroeiende somer son.
Tyd vat my hand,
loop vorentoe,
dan agteruit,
na dit wat moet kom,
en dit wat was...
Terug na daardie dag
van my groot val.
Of was dit nou die dag
van my groot opstaan.
My rebellie teen tyd.
Die dag wat alles gaan stil staan het.
My hart wil net weg hardloop,
maar my lyf sê bly.
Ek sit hier op my winter stoep.
Die somer son bak op my neer.
My lyf wil opstaan
maar die koue in my siel...
druk my weer neer.

Liefde verenig

“Liefde”.
Dis net ‘n woord,
‘n gevoel,
‘n gedagte
wat ek gedink het
my hart,
en my verstand,
in wese verstaan.
Ek was verdwaas,
absoluut stom geslaan
die dag;
Die dag wat jy
voor my hart se deur staan.
Vuis in die lug,
kloppend aan die deur.
Jou jeug
het my meegesleur.
Jou oë
het my gedagtes gevang.
Jou sagtheid
het my hart verower
en jou warme aanraking
het die woord “liefde”,
die gedagte,
die gevoel,
verewig...
met my hart
verenig.

My wish

I wish
I was the perfume on your skin,
then I could linger with you
all day long.

I wish
I was the clothes on your body,
then I could be close to you
all the time.

I wish
I was the shoes on your feet,
then I could take every step of life
with you.

I wish I was there
with you.

Lig van Liefde

Daai donker gedeelte van my hart.
Daar waar ek gedink het
die lig van liefde
nooit weer gaan skyn.

Daar staan jy in die skemering.
Geel bruin oë wat vir my kyk.
Ek raak jou wang
en jou liefde gloei deur my.

Jou liefde verwarm my,
skiet deur my siel,
bevredig my gees
en skyn uit my lyf.

Jy, my engelsman.
Die liefde van my,
sal verewig,
net vir jou...

Uit my hart skyn.

My Angle

As I lay here,
waiting to close my eye’s
at the end of day.
I lay wondering;
Will you still be here tomorrow,
and the tomorrows that will follow?
Will you hold me as the sun sets
and love me for each sun rise?
Has God send me
His most beautiful angle?
His price possession,
To take my hand,
to guide me…
Till the end of my time.

Jou stimulus

Jy,
het my voet laat stilstaan.
My gedagtes doel gegee;
om aan jou te dink.
My hart het ritmies begin dans
in die ou borskas van my.
Die donker duister verlede,
soos nuut,
in die stof laat verdwyn.
My siel het opgestaan,
begin sweef op die vlerke van liefde,
die liefde wat ek aan jou bely.
My gees het tot rus gekom,
neergedaal tot in my lyf.
Ek,
ek het jou aangeraak
en jy het die duisternis verdryf.
Lig op my pad geplaas.
Jou hand gelig
en my wang met jou hand geraak,
en ek het geweet,
daar in sig van jou oë
is waar ek eendag...

My lewe wil sluit.

Siamese tweeling

Twee lewens,
een lyf.
Eerste verjaarsdag
in hospitaal verblyf.
Twee koppe bymekaar,
maar gesiggies
weg van mekaar gedryf.
Jul voel mekaar,
een gevat aan die ander.
Die ander se stem gehoor.
Woorde gefluister;
Hoekom het God ons koppe
so aan mekaar gepleister.
Moet die een se siel dan sterf
vir die ander om te bly leef.
Moet die een vergaan
vir die ander om voort te bestaan,
of gaan jul twee,
hand aan hand...
die lewe beleef.

Liefdesgedig

Jou oë,
laat my in liefde glo.
Jou woorde,
laat my in liefde leef.
Jou warme sagte aanraking,
laat my liefde voel.
Jou lyf,
het my liefde gewys.
My oë,
het jou liefde gesien.
My woorde,
laat liefde op papier leef.
My warme sagte aanraking,
laat jou liefde beleef.
My lyf,
laat jou op die energie van liefde sweef.

Nou klop ek aan jou deur,
veldblom in die hand
en wag...
om dit weer en weer oor te beleef.

My hart se muur

Broos pienk lê die horison voor my.
Bevry van die ondergaande son.
Koel waai die nagwind,
verkoel die Chardonnay in my hand
tot perfekte temperatuur.
Stadig begin die aand ster blink
in die grys verdonkerende hemelruim.
Stadig vervlam die vuur op my stoep
en lek my met sy stille warme hitte.
Gedagtes begin sweef...
Ek sien weer die blou blou van jou oë,
ruik die soet aroma van jou vel,
voel jou hand op my wang
en ek hoor weer jou verwoording van my naam.
Stadig daal ‘n kalme rustigheid oor my.
Bevry my van die warboel van die dag.
My oë glinster weer deur die lekkende lag van die vuur
en my liggaam verwarm
weens liefde gegriffel
teen my hart se muur.

Vanaand

Ek het jou nodig.
Hier by my,
vanaand.
Geen beloftes van ‘n more,
net hierdie oomblik,
ek en jy.
My blik in jou oë,
jou hand in myne,
my liefde gesien deur jou oë,
jou hitte teen my lyf.
Oomblikke van vreugde.
Oomblikke van vrede.
Oomblikke saam met jou.

Dans van die flamink

Pronkend trots, staan die flamink en dans.
Lang nek swaaiend in die wind.
Dan, kop onderste bo
die water in...
Vere, sneeu wit tot flambojant pienk,
dans hul die rooibeen, langbeen dans.
Die mens
wil die pienk van sy veer
op die alg Spirulina blameer.
Geel brand vulkaniese vuur
diep binne-in sy oë,
geel brand die vurige Phoenix
diep in sy hart:
so word deur oorlewering beweer.
Met vier van jou spesie oor,
gaan ons jul
soos die Dodo verloor?
Gaan ons kinders se kinders
jul dans
slegs in boek of museum...

kan beleef?

Pad na liefde

Kom, gee liefde ‘n kans,
nog een kans om in liefde te lewe.
Een dag op ‘n keer
leef ons verby die seer.
Ek gee ‘n bietjie van my tyd vir jou,
en jy gee ‘n bietjie van jou tyd vir my.
Ek gee ‘n bietjie van myself vir jou,
en jy gee ‘n bietjie van jouself vir my.
Ek gee my liefde vir jou,
en jy gee jou liefde vir my.
Kom ons gee liefde ‘n kans.
Kom vat my hand.
Kom ons loop die pad
van liefde saam.

Pokkel gesig woelwater

‘n Pokkel gesiggie glimlag vir my.
Klein woelwater, wikkelend, waaiend,
beduie sy iets vir my,
te klein om ‘n woord te sê.
Krulkop met Yuppie bril.
Skouer hangend, traan oor haar wang,
sit haar Ma.
Oë te moeg om die storie te vertel,
maar die bord agter haar
het amper my glimlag gesteel;
“Walter Sisulu Paediatric Cardiac Centre of Africa”.
Ek vra myself,
waar gaan die pokkel gesig woelwater...
se lewe eindig.

My Vraag

Hoe vra ek jou
om my hand te vat,
my te help met die geveg
teen die donker in my.

Hoe vra ek jou..
Om my in die lig te ly,
na daar waar ek nimmer eindigend glimlag
saam met jou.

Hoe vra ek jou...
Om vir my kwaad te wees,
op my te gil en skreeu
as ek afwyk van die vaste wee van ons twee

Hoe vra ek jou....
Om deel van my te wees,
met soveel afstand
tussen ons twee

Hoe vra ek my hart
om jou weg te werp
in die diep donker blou see
en jou verewig weg te sleur.

Hoe vra ek my verstand
om jou beeld en klank
weg te bêre
in ‘n diep versteekte bres

Hoe vra ek my gees
om joune te verlaat,
as hy jou sien
as my enigste lewensmaat

Hoe vra ek myself
om jou naam te vergeet.
Jou energie te laat ophou leef
en als van jou

soos ‘n dooie bladsy om te blaai
en te vergeet.

My verweer

My liggaam is in opstand.
My hart sit met beitel in die hand,
probeer naarstigtelik uit my bors uitbreek.
My brein probeer keer
maar gedagtes aan jou
stop hom in sy spore.
Die twee so aanvallig
dat ek dit self nie meer kan weerstaan.
Ek onthou elke kurwe op jou lyf.
Van die fyn plooitjies langs jou oë,
teen jou elegante nek af,
verby die uitlokkende draai van jou naeltjie
tot by die krul van jou kleintoontjie.
Die warmte van jou lyf teen myne
en die warme vervulling om my.
Ek kom tot stilstand.
Hoe kan ek my hart en brein keer
as ek self wil uitbreek
na jou.

Die dag

Die dag wat my mond
nie meer jou naam kan spreek.
Die dag wat my ore
nie die klank van jou stem onthou.
Die dag wat my neus
die reuk van jou vel vergeet.
Die dag wat my lyf
die hitte van jou verloor.
Die dag wat my vel
jou sagte vat verweer.
Die dag wat my oë
die blou in joune laat gaan.
Die dag wat gedagtes
van jou vergaan.
Die dag wat my hart
my liefde vir jou laat gaan.
Dit is die dag
van die einde van my bestaan.

Venus met die sekel maan op tou.

Ek sien Venus
met die sekelmaan op tou,
en vir ‘n oomblik,
ja, net ‘n oomblik,
het die godin van liefde
my gedagtes daar by jou.
O my Liefde, die liefde van my,
waar skuil jy vanaand?
In die donker deel van die maan
of loer jy skelm om die rand?
Ry jy op die rug van die verskietende ster
of sit jy iewers weggekruip in die melkweg,
so mooi daar ver?
Hier op moeder aarde sit ek,
en ek kyk vir Venus
met die sekel maan op tou,
En my hele wese wens
Ek is daar by jou.

Rekenaar Predikasie

Rekenaar predikasies
lê swart op wit
op my skerm
in die donker sluier van die nag.

Die oggendster roep my,
saggies,
fluisterend.
Kom kyk na die opkoms van die son!

‘n Stralekrans breuk oor die horison
in ‘n kaleidoskoop van duisende kleure,
oomblikke net voor
die verskyning van die son.

Die winter son is koud op my lyf
En ek asem ‘n koue teug lug.
‘n Warm winter wit wasem verlaat my lyf
en verdwyn doelloos in die son.

En Ek weet...
Ek is hier.

My Blom

Blom gepluk in my hand.
Hoe admireer ek die dooie plant,
lig blou,
blomme fyn.
Gepluk vir jou,
net so ‘n ietsie van my.
Ek hang die blom aan my deur.
Die deur na die kamer van my hart.
Hier waar ek is,
hier waar ek wegkruip,
hier waar ek wag
vir jou klop aan my deur.
Vat my blom.
Vat my seer.
Hou my vas.
Laat my leef.

Woes.co.za

Donkiedans se pen
galop oor die blad,
Kamikazi gryp hom vas
en ry sy pen bloots.
Eva se dogter verly hul
met haar literêre naaktheid
en Blonnekopkind duik saam met Skuba
deur die inkpot.
Leo(wyfie) brul en grom op die agtergrond
en Johanna,
ja Johanna, die pilaar vir almal.
Kort graffiti, so vlyend van Annelie
en dan Jacolette,
so verleidend met haar pen.
Daar is te veel om te noem,
maar ons almal
is opsoek na daai klein bietjie aandag
en ‘n oomblik se roem.

My hoop

Slierte hare voor haar gesig,
weerbarstig die glimlag,
uitlokkend die oë,
dapper die wyn in my glas.

Drome verspoel in die sand,
golwe breek en bars,
was oor my
en die sand krap my stukkend.

Gister gebêre in die holte van my hart.
Vasgehaak aan die pendulum van tyd,
arrogant swaaiend voor my
dryf tyd verby.

Vandag, die droom gebore uit gister,
‘n glimlag sonder pyn,
oë sonder gister se rooi
en hoop.

Hoop dat iemand daar sal wees om my te vang
wanneer ek val sonder vlerke,
wind in my hare
en haar liefde in my hart.

Sunday, June 10, 2007

My MMS

Die MMS op my foon.
Jy,
blou son hoed op,
donker sonbril,
swart baai pakkie,
susterskind op jou skoot,
liefdevolle glimlag,
daar waar jy sit in my son.
Die boodskap;
Jongensfontein...
My antwoord,
kort en kordaat;
Mis jou, wens ek was daar.
Parmantig,
vibreer my foon weer.
dis net daar
waar ek my hart nie meer kon keer.
Met gedagte,
hart
en siel.
Die antwoord wat jy gee,
was kort
net drie letters,
dis al wat jy my wou gee,
maar die drie letters;
XxX,
was al wat ek wou lees
om net joune te wees,
in hart,
siel,
en gees.

Wednesday, June 6, 2007

Ek mis nie een

Ek mis nie
die blou van jou oë,
die hitte van jou lyf,
jou vat aan my wang,
daai pikante neusie,
daai sexy voete,
jou noem van my naam,
die lê van jou kop op my bors,
jou klougreep van my hand,
die reuk van jou vel
en die sagtheid van jou soen.
Ek mis nie een genoem.
Ek mis absoluut alles...
van jou

Daar ver, daar waar my hart is

Daar ver,
daar waar die Tsitsikamma woude vir my fluister.
Waar die donker waters van die Stormsrivier
se bonsende bruisende kabbelende gekletter my roep
en die vreesbevange vreugdevolle gejubel van die bunji by die Bloukransbrug
teen die kleurvolle diep kranse weergalm.
Waar die winter wit sneeu op die Swartberg my waaghalsig roep;
“Kom speel met my”.
Waar die Outeniqua se Proteas met hul pienk en wit
my oë omhels in die herfs
en die groot ou Geelhout met sy groot lang uitgestrekte arms wuif;
“Kom sit hier by my”.
Waar die spook van Uniondale
my ontvoer deur die Baviaanskloof berg passe
en ek eindig soos ‘n aap
op die kranse in die Gamkasberg se Hel.
Waar die blou wit skuimende branders breek by Stilbaai en Groot-Jongensfontein
en die derduisende skuimende skerwe water oor die sagte wit skulpstrand stoot.
Net daar wil ek wees,
want net daar...
voel ek vry.

My een wens

My hart
het net een wens,
een begeerte,
een mens
met wie hy een wil wees.
My gedagtes dwaal om daai een mens
en onthou daai een dag,
die een waar ek my verloor het
in die een mens.
Die een wens,
om een leeftyd
verlore te wees
saam met jou.

Amendeer

Nuutgevonde, die bene van my.
Lig ek my voet,
plaas dit wankelrig
op die pad waarop ek my moet vind.
Telkemale hard geval.
Moedeloos en broos opgestaan,
skuifelend en bewerig
beur ek voort
op die nuutgevonde bene van my.
Die begin...
nie so goed.
weer opgestaan
en beur voort,
na ‘n fantastiese einde.

My stukkie hemel

My stukkie hemel,
die plek waar ek veilig was,
waar my hart warm was
en die seer verdwyn.
Daar waar haar stem
my vrese gestil het,
haar oë,
vertel het van ‘n beter more
en sy,
my laat glo het,
laat vertrou het,
in more.

O Heer, ek staan nou alleen.
Waarom is my more van my weggeneem?

Winter wind

Die koue skuur teen my wang,
laat my lyf koud,
vat my hand
en laat my vingers bevrore.
Winter winde waai wild en woes rondom my,
lig die stof en laat dit strak
en krapperig in my oë,
‘n koue traan vloei teen my wang.
My gedagtes vlug terug die verlede in,
onthou en vertroetel jou warmte,
absorbeer jou energie
en laat my broos.
Jubelend die herinneringe aan jou.
Jy, die een wat van die winter kou hou.
Warm die lewe wat ek saam met jou onthou,
warmer as die son in die winter kou,
warmer as die koffie
wat my vingers naarstigtelik vasklou,
maar die koue skuur teen my,
my lyf is koud.

My abiogenese

Ek, die abjater
Open my oë
En vind myself abissaal.
My gedagtes ab initio,
Daar gefokus, net vir jou.
Ek was nie abiekwakool,
Maar ek met my aberrasie
Net vir jou.
Jy met jou abjeksie
Was soos ablasie,
‘n skeuring tussen ons,
En ek erotomanie
Ab ovo verlief.

Seisoene in my hart

Die Suiderkruis bekyk
in die donker kleed van die Klein Karoo.
My stem het jou naam laat eggo
teen die Outeniqua se krans.
Vir jou gaan soek
en ons gevind
op ‘n skulperige strand digby Stilbaai,
maar jou weer verloor
in die roet op my abstrakte albaster mure
van my beton woud.
As ons lente kom,
pronk die Jakarandas in die strate,
fynbos en proteas verkleur die Outeniqua,
ek hoor weer hoe die geelhout kreun
terwyl hy na ons son ryk
en die krans my roep,
daar waar die geelhout staan,
sê vir my; ons kan daar skuil,
hoog bo op sy krans muur.
Maar nou is dit koud.
Winter winde waai op my roet bedekte stoep.
Sagte wit sneeu bedek die krans,
daar waar ek jou naam wil roep,
maar my stem eggo nie meer
en die geelhout staan koud en alleen
die winter en trotseer,
sonder jou,
en sonder die hitte van ons son.

Skuimkop

O, Pilsner Urquell.
Jou lekker ou skuimkop.
Jy het my lekker gefop.
Jy bruis in my glas,
toe bruis jy in my kop.
Jou goue kleur
het my gemoed gou opgebeur
maar ses ‘n uur
was dalk net een te veel
al sê jou “label”
jy is net vier punt vier.
Nou maak die son my seer,
my mond,
die woestyn van self
en als wat ek eet
proe soos iets van ‘n ander planeet,
en dit als
want ek het vergeet;
Jou lyf
is soos die van ‘n vrou,
sonder respek
sal sy jou opvou
en soos ‘n karoo skaap
met ‘n vygie so klein
jou oor en oor
met haar skerp tande

herkou.

Swart op wit

Ek is net ‘n skrywer.
Gedigte vloei uit my pen
en ek verewig jou
op wit met swart ink.
Desperate oomblikke
uit die lewe van ‘n eensame
wat hom bevind het in jou energie,
jou aanraking
en die hitte van jou lyf
Die glimlag uit jou oë
het my eensaamheid verdryf,
maar ek is net ‘n skrywer,
met ‘n pen...
en ‘n blad.

Die pad na jou hart

Die aandlig verklap sy geheim,
fluister vir my;
“Die son gaan more weer skyn”.
Ek lig my voet
om myself te vind
maar die maan blyk klein,
‘n blink krapmerk
in die lug daar bo.
Die pad,
gemaskeer in ‘n donker sluier
en my hart,
mistroostig in die skemering
en wag in afwagting
vir die opkoms van jou son.
My oë verglaas in geestesvervoering
In afwagting op die lyn...
van die pad na jou hart.

Deurmekaar blonde hare

Lang vingers krul om die mikrofoon,
‘n prikkelende glimlag begroet jou,
deurmekaar blonde hare versteur jou
en ‘n lang slanke lyf
promeneer pronkerig rond.
‘n Issie broek
met sokkies tot by die knee
verklap die geheim
van vrees vir die winter kou.
Geheime flikker agter daai oë
en ek vra myself;
waaraan dink jy nou
as ander wêrelde
so om jou oopvou.

Val sonder vlerke

Elke keer as ek val.
As my voet struikel
en ek my pad byster raak.
Val sonder vlerke
soos Ikarus van ouds
en die wêreld te groot raak
vir net een mens.
Sit ek
en ek weet daar is net een,
net een wat my kan help,
net een wat my hand kan neem,
net een wat my weer die pad kan wys
en my vlerke gee
om op te sweef
totdat die wêreld onder my
as ‘n spikkel op die horison verdwyn,
en ek weet...

Ek het jou nodig.

Engel van die nag

Dit is dagbreek,
my oë gaan oop,
begroet die dagbreek
met herinnering van jou.

Tyd saam met jou ,
dae soos sekondes
op die groot wyser
van vader tyd.

‘n Leeftyd het voor my afgespeel.
Drome gedroom van ‘n toekoms
vol geluk,
vol van jou.

Nou droom ek van ‘n Engel
wat oor my sweef.
Sy gee my een vraag,
sy gee my een wens.

Nou het ek net een vraag
vir die Engel van die nag
wat so liefdevol oor my sweef;
Kan ek asseblief my sekondes weer beleef?

My woorde

Woorde,
gevorm in my gedagtes,
vlieg my verby
en ek pluk hulle
een vir een.
Ek bou sinne met hulle
wat gaan eindig in ‘n gedig.
My gedagtes maal, tol en draai
en my pen kris kras oor die papier.
Skrap ‘n woord hier,
vorm ‘n nuwe daar.
My oë staar strak na die lyf
gevorm op my papier.
Al wat my gedagtes sien
is huldeblyke
aan jou.

Jy

Jy.
Met my hart in jou hande,
my glimlag in jou oë
en my liefde
verlore in jou siel.

Jy.
Die een wat my lewe gewys het,
my wêreld verander het
en my gehelp het
om die wêreld deur ander oë te sien.

Jy.
Wat my gewys het wat verlange is,
wat dit is om te verander,
om om te gee
en wat dit beteken om te verloor.

Jy sal hier in my hart bly.

Saturday, May 5, 2007

My stoep

Ek het geloop in jou son.
Jou warmte het my aangeraak,
geloop in jou goue lig,
geleef op hoop en geloof
in jou.
Ek het gefloreer
van een soete aanraking
na die volgende van ekstase.
Jou woorde
het my siel gevoed,
my krag gegee
vir die eerste tree
met my nuwe voet.
Jou liefde het my laat oprys,
my vingers het die hemele aangeraak,
die skoonheid het my oë begroet
en die nektar in my beker
het my dors gestil.
Nou sit ek hier op my stoep,
my kop in die hemele
en uitstaar oor die uitspansel
terwyl die son onder gaan,
en ek wonder...
Mis jy my ook?

Derde keer

Ek het die haan drie keer hoor kraai
en ek het drie keer in jou voorhuis gedraai.
Ek het drie keer in jou oë gekyk
en ek het drie keer my lewe saam met jou bekyk.
Ek het drie keer aan jou hand gevat
en jy het drie keer aan my wang gevat.
Ek het jou my drie keer op die pad laat ly
en ek het drie keer gevoel...dis Jy.
Ek het drie keer van buite terug gekyk
en ek het drie keer jou nie verwyt.
Ek het drie keer na jou foto gestaar
en drie keer het hierdie breek my verwar.
Daar vloei nou vir die derde keer
‘n traan oor een man se wang.

My verf doek

Donker hare onring die prent,
fluweel sag die vel op die doek.
Die lippe,
skarlaken rooi getooi.
Vraende oë wat na my staar
met duisende vrae om te vrae.
Is jy die een in my droom?
Die een wat haar sagte hand
plaas op my wang?
My hand vat
en my ly...
Na die plek,
wat ons huis kan noem.

Holte van my hart

Daar waar die son nie skyn,
daai doodse koue kol.
Die holte waar jy was
in die lig gevulde kamer van my hart.
Bloed vloei nie meer daar,
my siel skuur stadig daar verby,
en my gees...
My gees verwens die kol.
Klein stukkies lig
hang daar in
en flikker soos die melkweg
diep uit die swart leegte.
Daar waar die son nie skyn

Karkaste van liefde verlore

‘n Spinnekop web in ‘n hoek.
Verlore,
verlate,
vol stof.
Selfs die spinnekop het gevlug.
Kil karkaste van liefde verlore
Drapeer in die web.
‘n Silwer blink druppel
Val na benede
En breek skerwend oop.
Daar is ‘n stad,
geboue,
strate,
‘n ander persoon.
‘n Herinnering...uit liefde verlore.

Weerkaatsing van jou son

Reën druppels worstel teen my ruit,
verloor hul greep
en gly jubelend
na benede.

‘n Traan vorm in my oog,
Worstel homself uit die hoek van my oog,
gly stadig na benede
en verdwyn in ‘n blink streep.

Nat is my ruit,
skoon gewas uit my siel.
Nat is my lyf,
skoon gewas uit die genade van Bo.

Een uit die hemele,
een uit my siel.
Die een, genade van ‘n Godheid.
Die ander...vertroosting vir ‘n gebroke siel.

Nou sit ek hier
en ek sien vir ‘n oomblik
die wêreld deur die reënboog van my jeug
terwyl ek kaalvoet dans...
In die weerkaatsing van jou son.

Liefde op die wind

Berge, dale, riviere en ‘n see
lê tussen ons twee.
Ek stuur ‘n soen op die wind
en hoop dat hy jou daar sal vind.
My gedagtes sweef oor die melkweg,
ontmoet jou daar
en ek weet jy is ook hier...
By my.
My oë val toe
en ek voel jou kop op my bors,
jou arm oor my lyf
en ek weet
my soen het jou gevind
op sy lang pad deur die wind
tot reg daar...
Waar jy jouself nou bevind.

Een wêreld

Ek en Jy.
Ja, ons twee,
van verskillende plekke,
twee alleen wêrelde
in die omwenteling van tyd
Ons oë ontmoet.
Ons woorde streel
en ons vlees...
Ons vlees word een in Gees.
Wêrelde verander om ons,
plekke word vreemd.
Alles verander,
soos ons...
Word dit alles een.

Gister, vandag en more

Gister se spore,
reeds verlore die wind.
Vandag se spore
lê vars in my verstand,
en more se spore...
Waar ek myself nog moet vind.
Ek sit my hand op die wang van gister.
‘n Traan van vreugde
spoel oor my hart
en druk my voet
in die spore van vandag.
My lyf beur voort in tyd.
Jou vinger punte in my hand
en ek weet,
Ja, ek weet,
waar ek myself more wil vind.

Daar by jou

Lig skeur die horison,
versteur die nag.
Mense begin beweeg,
stomp vir die dag.
My lyf ontmoet die dagbreek.
Wolke begroet die son,
verlig in ‘n kleur spel,
pastel blou, oranje en pienk.
Voëls rys op in die lug,
sweef deur die strale krans,
en jubel hul lofsange.
En ek.
Ek lê hier en wonder.
Is als ook so mooi...
Daar by jou.

Liefde in my hand

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Sigeuner vrou.
Haar geheimsinnige spel
het my voor haar voete neer gevel.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Viking vrou.
Met klein fyn atome
het sy ‘n lewe vir my gebou.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Skatlike vrou.
Deur jou oë
het jou woorde my gevind.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Standvastige vrou.
Jy het my hand gevat
na die pad waarop ek myself moes vind.

Ek hou liefde in my hand
Sara, die Griekse godin.
Wees die vrou langs my lyf.
Liefde soos die is bitter skaars om te vind.

Ek hou liefde in my hand.
Sara,
so sag,
so broos,
so fyn.

My fotoraam

My woorde stom.
Hul ontwyk my.
Die melaatsheid van my siel,
die seer op my lyf.
Jou oë deurboor my gedagtes.
Daai glimlag vertroos my siel,
stille soete aanraking.
Jy het my hart laat kniel,
ek loop die spore oor...
Klam nat sand,
rotse by die see,
die stoep voor die awend maal,
daar,
ja daar het ek my hart vir jou gegee.
Maar my woorde is nou stom,
hul ontwyk my gees.
My beker bly leeg,
Sonder jou...
Soos die foto in my raam,
so sal ek vir altyd by jou wees.

Saturday, April 7, 2007

Afrikaans, My brose Taal

O, Afrikaans.
Jou brose Taal.
Jy borrel uit my mond,
vloei uit my pen
en kruip oor my papier.
Woorde vereis uit my hart,
eggo deur my siel
en my verstand laat my gedagtes lewe.
Eers woorde,
dan reëls
en verse verskyn
in ‘n paljas woorde spel betower ek die blad.
My woorde raak verlore,
die pen raak droog,
My blad word sand papier
en my mond...
My mond brabbel ‘n vreemde taal.
My woorde rou,
My hart vind al die verkeerde woorde
en My siel verdor...
Sonder My brose Taal.
Sonder Afrikaans.

Dobbelspel van more

Die kans op ‘n droom.
‘n Dobbelspel op geluk.
Hoop op ‘n nuwe lewe,
saam met jou.
Werklikhede van gister
vasgevang in tyd.
Ons, ‘n woord gefluister
in die dwaasheid van die verlede.
Maar more,
‘n nuwe dag,
gevorm uit Hoop,
gebou op Geloof.
Gedroom deur ‘n man,
net vir jou.

Skarlaken

Hede.
Verlede.
Liefde,
oorgedra uit dit wat was.
Duister die toekoms.
Donker swart die verlede.
Skarlaken die bloed in my are,
vol energie,
borrellend,
bruisend...
In afwagting
op jou ewige son.

My More

Ek tree uit die verlede
die toekoms in.
Verlate spore agter,
nuwes wat gevorm moet word...
deur my.
Woeste verlede,
verlore in gedagtes.
Toekoms word gedroom
uit die diepte van my siel.
Liefde verwaai deur die wind,
gevang in die net van geloof.
‘n Geloof in ‘n beter more.
Hoop op ‘n beter Ek.
Gevind in Jou liefde.

My lyf

My hand.
Raak aan jou wang,
bekruip jou lyf,
gly oor jou kurwes
tot waar hy tot stilstand kom.

My oë.
Absorbeer jou silhoeëtte,
volg my hand terug,
staar strak in jou oë
en raak verlore in jou.

My mond.
Soen jou warm vel
en die sout smaak deurkruis my siel,
prikkel my gedagtes
en ontwaak my liggaam.

My neus.
Ruik jou soet vel,
asem dit in
tot daar waar jy,
ewig in my herinneringe sal bly.

My hart,
bons in afwagting.
My siel,
absorbeer jou.
My gedagtes,
krul om jou.
My herinneringe,
gevul net met jou.

Yesterday

I only woke up yesterday
to see the beauty of the moon for the first time,
to see the angels dance around it
and hear the call of mother nature.
Then I felt it for the first time.
There was no one to hold my hand,
no one to glance gently into my eye's,
no one to wisper sweet nothings to,
no one to worm up these cold old bones.
I have no one to help me
take the first step

My Pad

Ek, in die duisternis,
gee een tree vooruit
dieper die duisternis in.
My voet trap op vaste grond
maar my oë is nog blind.
Daar is soveel duisternis
op die pad wat ek myself bevind.
Ek lig my hand op
om in die duister te tas,
dan voel ek dit.
Jou vinger punte wat myne raak.
Die pad loop steeds duister voor my.
Maar ek weet...
Dis die pad waarop jy my lei.

Wednesday, March 21, 2007

Soete herinnering

Reën druis rondom my neer
en die lang pad roep my met sy treurige gesang.
Paaie deurkruis saam met jou,
soete herinneringe.
Foto's flits deur my gedagtes
en ek kom tot stilstand.
'n Rooi raam bril,
wit lae hals bloes,
'n seksie paar voete
wat op my vertoef.
Mans wat kwyl,
maar jy is deel van my.
Gedagtes aan jou,
Soete herinnering.

Sunday, March 18, 2007

Suiderkruis na my hart

Ek kyk op na die hemel ruim,
die melkweg met al sy prag.
Soekend na die Suiderkruis
om my voet die pad aan te wys.

Ek staan en roep uit na die Goddelikheid
om my pad vir my aan te wys.
Die pad wat my sal lei,
terug na jou.

Ek kyk op
en volg die Suiderkruis se stert.
Sy heel laaste ster
hang reg bokant jou.

Ek kyk op na die hemel ruim,
sien die sterre prag.
Die heel mooiste ster...
Sit vir my en wag.

Saturday, March 17, 2007

Waar’s jy vanaand

Sara, my liefde.
Ek met my lewe in die wind verwaai.
Jy, die een wat my liefde gevang het
en in vrugbare grond gelaat.

Sara, o Sara.
Waar is jy vanaand?
My siel brand,
daar is geen voeding vir my verlange

Sara, o die geliefde van my.
My hoop in die waansin.
O, my liefde, die liefde van my.
Ek verstaan nie hoekom jy my vingerpunte vanaand vermy.

Sirkels teen my lyf

Ons loop in sirkels by mekaar verby.
Die sirkels is stom by almal verby,
of is dit net ek wat hulle nie meer wil sien.
Pastel pienk en oranje lê die strepe van die oggend.
Die voëls sing hulle deurmekaar liedere
en die vierkantige venster laat die son in,
verwarm my siel stadig met sy hitte.
ʼn Skewe glimlag verskyn op my gesig,
my ovaal oë glinster van vreugde.
Van al die vorms rondom my
is jou sirkels lankal by my verby.
Die warm vorm van jou liggaam op my linne
maak sirkels tot styf teen my.

Friday, March 16, 2007

Woorde

Gedult,
die een woord wat ek nie verstaan.
Tyd,
die een woord wat ek haat.
Liefde,
die een woord wat my ongaan.
Verlange,
die een woord wat ek verstaan.
Hartseer,
die een woord wat ek nou beleef.
Sara,
die een woord waarvoor ek leef.

Staal en beton

Rasionaliseer, kritiseer, analiseer,
so gaan ek die lewe deur.
Grond breuk en dolwe rondom my
en gee die vars reuk van die aarde.
Beton gly en vorm rondom my
en my liefde weerspieël in die vorms.
My vingers gly oor jou koue beton en staal lyf
en ek weet...
Dis hier waar ek wil bly,
in jou huis van beton en staal.
Jou warm arms om my,
kop op my bors,
glimlaggende geslote oë
en jou warm lyf oor my.
In die plek...
Die plek wat ek huis wil noem.
In jou huis,
van staal en beton.

Duistere gedagtes

Jy, teen die muur.
Sprankeling in jou oë,
duistere uitdrukking op jou gesig.
Dis waarna ek al so lank verlang.
Jy vat my siel en speel met my gedagtes
en strome van herinneringe flits my verby.
Oomblikke wat gedeel was
in die vryheid van twee siele wat een oomblik beleef.
Ek beweeg deur jou binne ruim,
deur ‘n kloof,
oor oop paaie en draai digby Stillbaai.
Maar jy staan net teen die muur,
jou oë sprankel,
maar jou woorde maak net seer.

Donderstorm van gedagtes

Al donderend en grommend
bekruip grou grys wolke my.
Die son druk ‘n laaste warm ligstraal
wat verdof in ‘n oomblik van tyd.
‘n Duistere donkerte sak oor my neer
en ‘n rukwind druk my op my skouer.
Warm druppels water begin om my dreun
en los my water nat.
My brein begin krul om gedagtes van jou,
my liggaam smag na jou sagte aanraking.
Ek voel hoe rol die warm sweet teen my koel lyf af
terwyl die hitte van jou liggaam my siel bevredig
Daar weerklink en blits ʼn bliksemstraal deur my verstand,
Jy is nie meer.

Wens

Soos ou getroudes wil ek sit.
Ek met my beginnings,
en jy met jou endings.
Twee skoot rekenaars op ‘n tafel,
so sit ons langs mekaar.
Woordeloos in ons eie wêrelde,
tog vorm ons ‘n paar.
Ons deel een oomblik in tyd,
dis hoe ek wens dit was.

Duister

Gister hang in die lug
vol herinneringe aan jou.
Vandag beweeg by my verby
soos die onwaarhede van gister.

Die son wys sy vriendelike gesig
en beur voort op sy wentelbaan
maar vir my is sy strale gloed koud
en duister soos die nag.

Die volmaan kom groet my
en glimlag met sy geel kaas gesig
maar ek sien slegs ‘n sekelmaan
met ‘n traan in haar gesig.

My gedagtes worstel met jou.
Gister was so mooi,
vandag so vol pyn,
En more…’n hoop wat sal bly voortleef.

Die dag

Ek sit op die drumpel van die verlede
en kyk uit oor die toekoms
’n Glimlag uit die hoek van my oog,
maar ’n traan in my hart.

Die dag vat my vas in sy greep
en maal met my gedagtes deur die vlaktes van verlorenheid.
Nog ’n dag in my lewe...nog ‘n dag vol van verlange,
verlange na ’n gevoel wat ek verloor het.

‘n Gevoel wat ek nie verstaan het,
‘n gevoel wat ek misbruik het,
’n gevoel uit ’n duister verlede.
Die gevoel van liefde.

Die dag van duisternis.
Die dag vol nag.
Die dag.
Die dag wat ek liefde verloor het.

Ek is verlore in tyd,
En more...
‘n Duister uitkoms,
Maar die dag waarna ek verlang.

Kringe in my hart

Kringe van lewe,
sirkels om en om.
Om my…en om jou
en versteur alles verewig.

Ek en jy,
siele verenig deur tyd
stap hand aan hand
oor die plato van ewigheid.

Jou naam verewig vas gevang in my gedagtes.
Jou oë staar deur my siel .
Jy in my lewe,
‘n ewigheid.

Heer, mag die lewe weer en weer,
haar in my hart vereer.

Droomverlore

Droomverlore,
vasgevang in die greep van verlange.
‘n Oomblik se stilte,
dan ‘n traan oor my wang.

Jy, die een wat my hart verbly
is verlore in tyd en afstand.
‘n Fraaie visioen op die horison
ver buite my beryk.

Ek ruik die sagtheid van jou vel in my neusgange
en sien jou laggende blou oë.
Ek hoor jou stem in my siel,
verlange vat my vas.

Jy die een op die horison.
Jy die een verlore in tyd.
Jy, wat my hart gesteel het,
en ek…ek’s droomverlore

Liefde in die verlede tyd

‘n Verlange na dit wat was
en dit wat kon gewees het.
‘n Verbeeldingsvlug oor die velde van realiteit,
gebeurtenisse in die verlede.
Waarom nie in die toekoms of die hede?
Waarom verander alles so vinnig om ‘n mens?
Waarheen gaan alles heen?
Jy met jou sprankelende blou oë,
die gesig wat lag en jubel in my hart.
Waarom kan ek jou nie kry?
Waarom mag ek jou nie begeer?
O, my siel brand in my gemoed,
oor liefde verlore,
oor liefde in die verlede tyd

Warm herinneringe

Herinneringe aan jou
vloei deur my liggaam soos die opkoms van die son.
Pienk oranje met ʼn tikseltjie blou,
so onthou ek jou.

Warme liefde het my omring.
Jou aanraking, die hitte van die son.
Jou woorde,
kalmerend soos die sagte gedruis van die wind.

Oë, so verlydelik,
soos die van Delila haar self.
Dis wat ek onthou
as my gedagtes jou omvou.

Maar nou is dit slegs ʼn herindeling
van dae wat was.
Wense van dit wat kon wees,
en hoop.

Silhoeëtte

Silhoeëtte teen ‘n muur gegraveer.
Twee gedaantes beweeg ritmies saam
in die stadige dans van die lewe
en draai en tol om en om en om…
Dan skielik ‘n doodse stilte,
Geen beweging.
Nie eers ‘n roering.
Dan skielik, die opkoms van die son.
Die skadu’s verdwyn in ‘n oogwink van lig.
Die gedaantes word twee mense
gekoester in die greep van liefde.
Verlore in tyd,
verlore in liefde,
gevind in mekaar.

Onskuld

My siel smag na jou soete aanraking,
sagte soetheid van jou vel,
stille broosheid van jou siel.
Jou onskuld.

Jy die een wat my al so lank betower,
my sagkens in jou hitte toevou,
my met jou liefde sagkens koester,
maar verweer om my lief te hê.

Waarom dan al die skoonheid.
Waarom al die aanskou.
Waarom al die sagtheid
as ek jou nie kan vashou.

Eensame dae volg op eensame nagte,
tog vertroos my denke van jou
‘n hartseer verlore siel.
Gebroke…maar nie dood

Vriendskap so groot.
Vriendskap so diep.
Vriendskap sonder vrae.
Vriendskap wat ek kan geniet.

Liefde gebore uit niks.
Liefde deur die wind verwaai.
Sonder vriendskap…
Beteken liefde niks

Sekondes

Stadig tik die sekondes verby.
Dit word minute,
ure,
dae.

Elke oomblik sonder jou is soos ‘n leeftyd.
‘n Leeftyd sonder liefde,
warmte,
jy.

Een oomblik op die ander,
tydloos verdwaal in tyd,
verlore,
dan jy.

Die son breuk deur die donker grou wolke van tyd.
Jy staan hier voor my.
Jou glimlag sprankelend.
Jou liefde net vir my.

My tas

My lewe is in ʼn tas,
en ek staan op die stasie se perron.
Daar loop spore links van my,
en daar loop spore regs van my,
maar geen spore reg voor my.
Gaan ek links of regs
op die beproefde spore van die verlede…
Of gaan ek reguit die duisternis in.
Die verlede hang so swaar in die tas
en ek sit hom neer.
Ek staar na links,
dan weer regs.
Neem een diep teug
en gee ʼn tree na vore…die duisternis in.
Daar is ʼn gejubel in my hart.
Vreugde warrel deur my siel.
ʼn Glimlag op my mond want ek loop op my eie spoor,
op die pad wat ek self moes vind.

Seun

Die sand in die uurglas hardloop vinnig deur
en ek probeer my vinger daarvoor druk
maar tyd gaan so vinnig verby
en ons staan magteloos en verstom terwyl dit by ons verby.
Ek onthou daai eerste oomblikke.
Jy so klein en sag in my arms,
jou eerste lag…jou eerste traan.
Die fyn spore wat jy deur my hart geloop het
terwyl jy my vinger vas geklem het.
Die dae wat jy bo-op my geslaap het
en my hart jou liggaam warm gehou het.
Die gelowige blou oë wat na my gestaar het
en geglo het ek sal jou nie laat struikel.
O, waar is dit alles heen.
Tyd gaan so vinnig verby.
Ek word nou oud,
en jy,
ʼn jong seun.

Liefdesduiwel

Met klein vingers hou sy haar greep,
die saksofoon is in haar mond en sy begin speel
en sy buig ritmies saam met die musiek.
Haar vingers gly stadig oor my koue lyf
en sy speel haar lied.
ʼn Lied van hoop.
ʼn Lied van smart.
Die lied van my lewe,
en die inspirasie om te sweef.
Te sweef op die vlerke van my hart,
al hoer en hoer…
Totdat haar brose vingers aan myne raak
en ek weet ek is, omdat sy daar is.
Brose duiwel van my hart,
speel jou lied,
speel jou lied van liefde vir my.

Reisiger in tyd

Ek het Tafelberg bekyk vanaf die nat klipperige sand van Blouberg,
oor die rooi ruwe duine duskant Upington,
deur die glansryke lowergroen woude by Knysna,
soet geel mielies ge-eet in Parys,
Tiervis gevang by Paradys Eiland,
pik giet swart yster gedelf in Thabazimbi,
en terug gekom duskant die goue gesig van die Duisend Heuwels verby
maar my hart was nêrens.
My siel was vry…
Maar my vlerke was swaar met vryheid.
Geen pad vir my voet.
Geen berg om te oorwin.
Geen woud of woestyn om te deurkruis.
Geen hindernis om te verby.
Geen voeding vir my liggaam,
Oppad na die plek…
Wat my hart huis kan noem.

Swerwer

Ek het jou verlaat lank voordat jy weg was.
My liggaam, vlees en bloed was daar,
maar my gees het geworstel op die vlaktes van verlorendheid.
Jou hand was sag en warm op my koue vlees.
Jou liefde was oorweldiging in my koue staar,
in die woestyn van winter in my hart.
My drome was in my verstand uit gedink,
maar my hart het doelloos in die agter strate rond gedrentel.
Die swerwer het altyd weg gehardloop in die oë van die standvastige,
maar sy voet was altyd op die pad voor hom.
Die pad waarop hy homself moes vind.

Sara!

Sara!
Ego die woord deur die gange van my verstand,
dit dreun in my siel
en dan weerklink dit weerstondig weer.

Sara.
Kom die ego weer.
Dit ruk my regop
die oomblik wat die word my siel versteur

Sara...
Weerklink dit weer,
maar die ego kom al sagter deur
want Sara bly leef…
Diep binne my.

Oggend lug

Die oggend lug waai koel oor my
en die warm strale van die son breek oor die horison.
Die sout smaak van die oggend mis hang aan my lippe
en herinner my aan jou.

Jou warmte breek altyd deur die winter in my hart.
Jou hand, die sagtheid in my seer skurwe hand.
Jou glimlag, die warm son se strale op my koue lyf
en jou oë, die plek wat ek huis wil noem.

My hart klop vinniger in afwagting op jou.
My ore gespits op die gedruis van jou voetstappe.
My neus kan nie wag om die soet geur van jou in te asem
en my lyf begin die warmte van jou son op hom te voel.

My hand streel sagkens oor jou koel warm lyf
en die son breek deur met al sy mag.
My hart is verlore in jou oë…
En die warm son het my siel aan joune vas gebrand

Nuwe maan

Die sekel maan loer koud en onheilspellend na my.
ʼn Grou grys wolk vorm ʼn traan in sy gesig.
Sy prag versmoor deur tyd…
ʼn Laaste ligstraal lig.

ʼn Woeste winterswind begin om my draai,
vat my vas in sy bibberende greep,
sny deur my siel met sy been knersende wit asem…
En los my leweloos in ʼn graf van blou wit ys.

Tyd gaan so stadig verby in die skadu van die maan
en verskroei alles met sy snerpende koue wurg.
Dan…duisternis
Die sekonde voor nuwe lewe.

Rooi warm bloed druis deur my in afwagting op die nuwe.
Die begin van lewe.
Die begin van die nuwe,
gevorm uit die hitte van jou gloeiende goue son.

Kaapse draai

My hart maak ‘n Kaapse draai
en ʼn pyn skiet deur my.
‘n Pyn van verlange…
Verlange na hoop, vreugde, en na jou.

Leeg is die kamer van my hart,
eensaam die winde wat daardeur waai.
Die wind se lied ego deur my siel
met sy lied van verlange.

My ore wil dit nie meer hoor,
en ek is blind van eensaamheid.
My stem, stom van verlange
en daar is ʼn ysige wind wat rondom my waai.

O Heer, fluister net saggies weer,
wanneer vervang haar warme liefde nou weer die seer.

Koggel lag uit die duisternis

Skemering daal stadig oor my neer
en in die donkerte sien ek ‘n flikkering.
ʼn Flikkering van liefde, hoop en warmte…
En more,
gister se seerkry vergete.
Vandag se foute klaar vas gemessel in tyd…
En more…
Om die draai met haar koggelende lag.
My siel smeul in verlange.
My hart roep uit na haar.
My oë smag na haar silhoeët
en die warmte van haar oë,
haar golwende goue hare,
haar warme pienk lippe
en haar koggelende lag wat my weerloos laat.
Maar more le nog so ver
en vandag se duisternis het reeds sagkens oor my neer gedaal.
Sy, ja sy staan al koggelend en roep uit die flikkering van more
terwyl die duisternis van gister stadig verdwyn.

Duisternis

Eensaamheid bekruip my en druk my vas in ʼn hoek
en omkring my met sy koue donker swart gal smaak.
Ek skreeu om hulp
en druk my hand die hoogtes in,
maar daar is geen antwoord.
Geen siel wat my sien
in my toegevoude gewaad van eensaamheid.
Mense beweeg stadig voor my verby
en my stem ego in die hol leegte rondom my,
raak verlore voor hulle dit kan hoor.
Ek sit hier in my hoekie van duisternis
en wag vir jou.

Verlore droom

Liefde verlore in ‘n oogwink van tyd.
‘n Tydlose omwenteling van wat verbreuk is.
Ek in my hoekie vol berou,
jy in joune vol haat.

My hart in duisende stukkies,
bloed orals oor die mure en vloer.
Ek snak ʼn laaste asem…
En my siel val dood

My liggaam beur sielloos voort deur tyd.
Harteloos,
liefdeloos,
sonder jou.

Berou, haat en liefde.
So naby mekaar maar soos ons, ver van mekaar verwyder.
Soos die een van my drome
nou net ʼn droom sal bly.

Groen kol

Ek sit en staar na die groen kol op my rekenaar
terwyl ‘n traan stadig oor my wang rol.
My gedagtes krul om jou
en druk geweldig op my gebroke hart.
Die oomblik in tyd het tot stilstand gekom
en die res van die wêreld gaan by my verby.
Ek lewe sonder tyd,
die dae nimmereindigend.
My siel verlore in die vlakte van pyn
en my brein wil nie meer.
Sara, met die groen kol langs jou naam.

Twee wêrelde

My hande in my hare.
My jas vol as.
Twee wêrelde in een dag.
Een vol sonskyn,
die ander,
koud en donker soos die nag.
Een lewe,
veelvuldige dood.
My liggaam beweeg
maar my siel is dood.
Haar oë loer nog vir my
maar leweloos lê die prent voor my.
My dag vol nag.
Die dag wat jy nie meer by my wou bly.

Sonder jou

Ek, met al die antwoorde,
stom
Ek wat altyd alles sien,
blind
Ek met die reguit denke,
dronk
Ek met my voete altyd op die grond,
verslaan
Ek wat altyd my pad vind,
verlore
Ek staan alleen
sonder jou.