Daar ver,
daar waar die Tsitsikamma woude vir my fluister.
Waar die donker waters van die Stormsrivier
se bonsende bruisende kabbelende gekletter my roep
en die vreesbevange vreugdevolle gejubel van die bunji by die Bloukransbrug
teen die kleurvolle diep kranse weergalm.
Waar die winter wit sneeu op die Swartberg my waaghalsig roep;
“Kom speel met my”.
Waar die Outeniqua se Proteas met hul pienk en wit
my oë omhels in die herfs
en die groot ou Geelhout met sy groot lang uitgestrekte arms wuif;
“Kom sit hier by my”.
Waar die spook van Uniondale
my ontvoer deur die Baviaanskloof berg passe
en ek eindig soos ‘n aap
op die kranse in die Gamkasberg se Hel.
Waar die blou wit skuimende branders breek by Stilbaai en Groot-Jongensfontein
en die derduisende skuimende skerwe water oor die sagte wit skulpstrand stoot.
Net daar wil ek wees,
want net daar...
voel ek vry.
Wednesday, June 6, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment