Wednesday, March 21, 2007

Soete herinnering

Reën druis rondom my neer
en die lang pad roep my met sy treurige gesang.
Paaie deurkruis saam met jou,
soete herinneringe.
Foto's flits deur my gedagtes
en ek kom tot stilstand.
'n Rooi raam bril,
wit lae hals bloes,
'n seksie paar voete
wat op my vertoef.
Mans wat kwyl,
maar jy is deel van my.
Gedagtes aan jou,
Soete herinnering.

Sunday, March 18, 2007

Suiderkruis na my hart

Ek kyk op na die hemel ruim,
die melkweg met al sy prag.
Soekend na die Suiderkruis
om my voet die pad aan te wys.

Ek staan en roep uit na die Goddelikheid
om my pad vir my aan te wys.
Die pad wat my sal lei,
terug na jou.

Ek kyk op
en volg die Suiderkruis se stert.
Sy heel laaste ster
hang reg bokant jou.

Ek kyk op na die hemel ruim,
sien die sterre prag.
Die heel mooiste ster...
Sit vir my en wag.

Saturday, March 17, 2007

Waar’s jy vanaand

Sara, my liefde.
Ek met my lewe in die wind verwaai.
Jy, die een wat my liefde gevang het
en in vrugbare grond gelaat.

Sara, o Sara.
Waar is jy vanaand?
My siel brand,
daar is geen voeding vir my verlange

Sara, o die geliefde van my.
My hoop in die waansin.
O, my liefde, die liefde van my.
Ek verstaan nie hoekom jy my vingerpunte vanaand vermy.

Sirkels teen my lyf

Ons loop in sirkels by mekaar verby.
Die sirkels is stom by almal verby,
of is dit net ek wat hulle nie meer wil sien.
Pastel pienk en oranje lê die strepe van die oggend.
Die voëls sing hulle deurmekaar liedere
en die vierkantige venster laat die son in,
verwarm my siel stadig met sy hitte.
ʼn Skewe glimlag verskyn op my gesig,
my ovaal oë glinster van vreugde.
Van al die vorms rondom my
is jou sirkels lankal by my verby.
Die warm vorm van jou liggaam op my linne
maak sirkels tot styf teen my.

Friday, March 16, 2007

Woorde

Gedult,
die een woord wat ek nie verstaan.
Tyd,
die een woord wat ek haat.
Liefde,
die een woord wat my ongaan.
Verlange,
die een woord wat ek verstaan.
Hartseer,
die een woord wat ek nou beleef.
Sara,
die een woord waarvoor ek leef.

Staal en beton

Rasionaliseer, kritiseer, analiseer,
so gaan ek die lewe deur.
Grond breuk en dolwe rondom my
en gee die vars reuk van die aarde.
Beton gly en vorm rondom my
en my liefde weerspieël in die vorms.
My vingers gly oor jou koue beton en staal lyf
en ek weet...
Dis hier waar ek wil bly,
in jou huis van beton en staal.
Jou warm arms om my,
kop op my bors,
glimlaggende geslote oë
en jou warm lyf oor my.
In die plek...
Die plek wat ek huis wil noem.
In jou huis,
van staal en beton.

Duistere gedagtes

Jy, teen die muur.
Sprankeling in jou oë,
duistere uitdrukking op jou gesig.
Dis waarna ek al so lank verlang.
Jy vat my siel en speel met my gedagtes
en strome van herinneringe flits my verby.
Oomblikke wat gedeel was
in die vryheid van twee siele wat een oomblik beleef.
Ek beweeg deur jou binne ruim,
deur ‘n kloof,
oor oop paaie en draai digby Stillbaai.
Maar jy staan net teen die muur,
jou oë sprankel,
maar jou woorde maak net seer.

Donderstorm van gedagtes

Al donderend en grommend
bekruip grou grys wolke my.
Die son druk ‘n laaste warm ligstraal
wat verdof in ‘n oomblik van tyd.
‘n Duistere donkerte sak oor my neer
en ‘n rukwind druk my op my skouer.
Warm druppels water begin om my dreun
en los my water nat.
My brein begin krul om gedagtes van jou,
my liggaam smag na jou sagte aanraking.
Ek voel hoe rol die warm sweet teen my koel lyf af
terwyl die hitte van jou liggaam my siel bevredig
Daar weerklink en blits ʼn bliksemstraal deur my verstand,
Jy is nie meer.

Wens

Soos ou getroudes wil ek sit.
Ek met my beginnings,
en jy met jou endings.
Twee skoot rekenaars op ‘n tafel,
so sit ons langs mekaar.
Woordeloos in ons eie wêrelde,
tog vorm ons ‘n paar.
Ons deel een oomblik in tyd,
dis hoe ek wens dit was.

Duister

Gister hang in die lug
vol herinneringe aan jou.
Vandag beweeg by my verby
soos die onwaarhede van gister.

Die son wys sy vriendelike gesig
en beur voort op sy wentelbaan
maar vir my is sy strale gloed koud
en duister soos die nag.

Die volmaan kom groet my
en glimlag met sy geel kaas gesig
maar ek sien slegs ‘n sekelmaan
met ‘n traan in haar gesig.

My gedagtes worstel met jou.
Gister was so mooi,
vandag so vol pyn,
En more…’n hoop wat sal bly voortleef.

Die dag

Ek sit op die drumpel van die verlede
en kyk uit oor die toekoms
’n Glimlag uit die hoek van my oog,
maar ’n traan in my hart.

Die dag vat my vas in sy greep
en maal met my gedagtes deur die vlaktes van verlorenheid.
Nog ’n dag in my lewe...nog ‘n dag vol van verlange,
verlange na ’n gevoel wat ek verloor het.

‘n Gevoel wat ek nie verstaan het,
‘n gevoel wat ek misbruik het,
’n gevoel uit ’n duister verlede.
Die gevoel van liefde.

Die dag van duisternis.
Die dag vol nag.
Die dag.
Die dag wat ek liefde verloor het.

Ek is verlore in tyd,
En more...
‘n Duister uitkoms,
Maar die dag waarna ek verlang.

Kringe in my hart

Kringe van lewe,
sirkels om en om.
Om my…en om jou
en versteur alles verewig.

Ek en jy,
siele verenig deur tyd
stap hand aan hand
oor die plato van ewigheid.

Jou naam verewig vas gevang in my gedagtes.
Jou oë staar deur my siel .
Jy in my lewe,
‘n ewigheid.

Heer, mag die lewe weer en weer,
haar in my hart vereer.

Droomverlore

Droomverlore,
vasgevang in die greep van verlange.
‘n Oomblik se stilte,
dan ‘n traan oor my wang.

Jy, die een wat my hart verbly
is verlore in tyd en afstand.
‘n Fraaie visioen op die horison
ver buite my beryk.

Ek ruik die sagtheid van jou vel in my neusgange
en sien jou laggende blou oë.
Ek hoor jou stem in my siel,
verlange vat my vas.

Jy die een op die horison.
Jy die een verlore in tyd.
Jy, wat my hart gesteel het,
en ek…ek’s droomverlore

Liefde in die verlede tyd

‘n Verlange na dit wat was
en dit wat kon gewees het.
‘n Verbeeldingsvlug oor die velde van realiteit,
gebeurtenisse in die verlede.
Waarom nie in die toekoms of die hede?
Waarom verander alles so vinnig om ‘n mens?
Waarheen gaan alles heen?
Jy met jou sprankelende blou oë,
die gesig wat lag en jubel in my hart.
Waarom kan ek jou nie kry?
Waarom mag ek jou nie begeer?
O, my siel brand in my gemoed,
oor liefde verlore,
oor liefde in die verlede tyd

Warm herinneringe

Herinneringe aan jou
vloei deur my liggaam soos die opkoms van die son.
Pienk oranje met ʼn tikseltjie blou,
so onthou ek jou.

Warme liefde het my omring.
Jou aanraking, die hitte van die son.
Jou woorde,
kalmerend soos die sagte gedruis van die wind.

Oë, so verlydelik,
soos die van Delila haar self.
Dis wat ek onthou
as my gedagtes jou omvou.

Maar nou is dit slegs ʼn herindeling
van dae wat was.
Wense van dit wat kon wees,
en hoop.

Silhoeëtte

Silhoeëtte teen ‘n muur gegraveer.
Twee gedaantes beweeg ritmies saam
in die stadige dans van die lewe
en draai en tol om en om en om…
Dan skielik ‘n doodse stilte,
Geen beweging.
Nie eers ‘n roering.
Dan skielik, die opkoms van die son.
Die skadu’s verdwyn in ‘n oogwink van lig.
Die gedaantes word twee mense
gekoester in die greep van liefde.
Verlore in tyd,
verlore in liefde,
gevind in mekaar.

Onskuld

My siel smag na jou soete aanraking,
sagte soetheid van jou vel,
stille broosheid van jou siel.
Jou onskuld.

Jy die een wat my al so lank betower,
my sagkens in jou hitte toevou,
my met jou liefde sagkens koester,
maar verweer om my lief te hê.

Waarom dan al die skoonheid.
Waarom al die aanskou.
Waarom al die sagtheid
as ek jou nie kan vashou.

Eensame dae volg op eensame nagte,
tog vertroos my denke van jou
‘n hartseer verlore siel.
Gebroke…maar nie dood

Vriendskap so groot.
Vriendskap so diep.
Vriendskap sonder vrae.
Vriendskap wat ek kan geniet.

Liefde gebore uit niks.
Liefde deur die wind verwaai.
Sonder vriendskap…
Beteken liefde niks

Sekondes

Stadig tik die sekondes verby.
Dit word minute,
ure,
dae.

Elke oomblik sonder jou is soos ‘n leeftyd.
‘n Leeftyd sonder liefde,
warmte,
jy.

Een oomblik op die ander,
tydloos verdwaal in tyd,
verlore,
dan jy.

Die son breuk deur die donker grou wolke van tyd.
Jy staan hier voor my.
Jou glimlag sprankelend.
Jou liefde net vir my.

My tas

My lewe is in ʼn tas,
en ek staan op die stasie se perron.
Daar loop spore links van my,
en daar loop spore regs van my,
maar geen spore reg voor my.
Gaan ek links of regs
op die beproefde spore van die verlede…
Of gaan ek reguit die duisternis in.
Die verlede hang so swaar in die tas
en ek sit hom neer.
Ek staar na links,
dan weer regs.
Neem een diep teug
en gee ʼn tree na vore…die duisternis in.
Daar is ʼn gejubel in my hart.
Vreugde warrel deur my siel.
ʼn Glimlag op my mond want ek loop op my eie spoor,
op die pad wat ek self moes vind.

Seun

Die sand in die uurglas hardloop vinnig deur
en ek probeer my vinger daarvoor druk
maar tyd gaan so vinnig verby
en ons staan magteloos en verstom terwyl dit by ons verby.
Ek onthou daai eerste oomblikke.
Jy so klein en sag in my arms,
jou eerste lag…jou eerste traan.
Die fyn spore wat jy deur my hart geloop het
terwyl jy my vinger vas geklem het.
Die dae wat jy bo-op my geslaap het
en my hart jou liggaam warm gehou het.
Die gelowige blou oë wat na my gestaar het
en geglo het ek sal jou nie laat struikel.
O, waar is dit alles heen.
Tyd gaan so vinnig verby.
Ek word nou oud,
en jy,
ʼn jong seun.

Liefdesduiwel

Met klein vingers hou sy haar greep,
die saksofoon is in haar mond en sy begin speel
en sy buig ritmies saam met die musiek.
Haar vingers gly stadig oor my koue lyf
en sy speel haar lied.
ʼn Lied van hoop.
ʼn Lied van smart.
Die lied van my lewe,
en die inspirasie om te sweef.
Te sweef op die vlerke van my hart,
al hoer en hoer…
Totdat haar brose vingers aan myne raak
en ek weet ek is, omdat sy daar is.
Brose duiwel van my hart,
speel jou lied,
speel jou lied van liefde vir my.

Reisiger in tyd

Ek het Tafelberg bekyk vanaf die nat klipperige sand van Blouberg,
oor die rooi ruwe duine duskant Upington,
deur die glansryke lowergroen woude by Knysna,
soet geel mielies ge-eet in Parys,
Tiervis gevang by Paradys Eiland,
pik giet swart yster gedelf in Thabazimbi,
en terug gekom duskant die goue gesig van die Duisend Heuwels verby
maar my hart was nêrens.
My siel was vry…
Maar my vlerke was swaar met vryheid.
Geen pad vir my voet.
Geen berg om te oorwin.
Geen woud of woestyn om te deurkruis.
Geen hindernis om te verby.
Geen voeding vir my liggaam,
Oppad na die plek…
Wat my hart huis kan noem.

Swerwer

Ek het jou verlaat lank voordat jy weg was.
My liggaam, vlees en bloed was daar,
maar my gees het geworstel op die vlaktes van verlorendheid.
Jou hand was sag en warm op my koue vlees.
Jou liefde was oorweldiging in my koue staar,
in die woestyn van winter in my hart.
My drome was in my verstand uit gedink,
maar my hart het doelloos in die agter strate rond gedrentel.
Die swerwer het altyd weg gehardloop in die oë van die standvastige,
maar sy voet was altyd op die pad voor hom.
Die pad waarop hy homself moes vind.

Sara!

Sara!
Ego die woord deur die gange van my verstand,
dit dreun in my siel
en dan weerklink dit weerstondig weer.

Sara.
Kom die ego weer.
Dit ruk my regop
die oomblik wat die word my siel versteur

Sara...
Weerklink dit weer,
maar die ego kom al sagter deur
want Sara bly leef…
Diep binne my.

Oggend lug

Die oggend lug waai koel oor my
en die warm strale van die son breek oor die horison.
Die sout smaak van die oggend mis hang aan my lippe
en herinner my aan jou.

Jou warmte breek altyd deur die winter in my hart.
Jou hand, die sagtheid in my seer skurwe hand.
Jou glimlag, die warm son se strale op my koue lyf
en jou oë, die plek wat ek huis wil noem.

My hart klop vinniger in afwagting op jou.
My ore gespits op die gedruis van jou voetstappe.
My neus kan nie wag om die soet geur van jou in te asem
en my lyf begin die warmte van jou son op hom te voel.

My hand streel sagkens oor jou koel warm lyf
en die son breek deur met al sy mag.
My hart is verlore in jou oë…
En die warm son het my siel aan joune vas gebrand

Nuwe maan

Die sekel maan loer koud en onheilspellend na my.
ʼn Grou grys wolk vorm ʼn traan in sy gesig.
Sy prag versmoor deur tyd…
ʼn Laaste ligstraal lig.

ʼn Woeste winterswind begin om my draai,
vat my vas in sy bibberende greep,
sny deur my siel met sy been knersende wit asem…
En los my leweloos in ʼn graf van blou wit ys.

Tyd gaan so stadig verby in die skadu van die maan
en verskroei alles met sy snerpende koue wurg.
Dan…duisternis
Die sekonde voor nuwe lewe.

Rooi warm bloed druis deur my in afwagting op die nuwe.
Die begin van lewe.
Die begin van die nuwe,
gevorm uit die hitte van jou gloeiende goue son.

Kaapse draai

My hart maak ‘n Kaapse draai
en ʼn pyn skiet deur my.
‘n Pyn van verlange…
Verlange na hoop, vreugde, en na jou.

Leeg is die kamer van my hart,
eensaam die winde wat daardeur waai.
Die wind se lied ego deur my siel
met sy lied van verlange.

My ore wil dit nie meer hoor,
en ek is blind van eensaamheid.
My stem, stom van verlange
en daar is ʼn ysige wind wat rondom my waai.

O Heer, fluister net saggies weer,
wanneer vervang haar warme liefde nou weer die seer.

Koggel lag uit die duisternis

Skemering daal stadig oor my neer
en in die donkerte sien ek ‘n flikkering.
ʼn Flikkering van liefde, hoop en warmte…
En more,
gister se seerkry vergete.
Vandag se foute klaar vas gemessel in tyd…
En more…
Om die draai met haar koggelende lag.
My siel smeul in verlange.
My hart roep uit na haar.
My oë smag na haar silhoeët
en die warmte van haar oë,
haar golwende goue hare,
haar warme pienk lippe
en haar koggelende lag wat my weerloos laat.
Maar more le nog so ver
en vandag se duisternis het reeds sagkens oor my neer gedaal.
Sy, ja sy staan al koggelend en roep uit die flikkering van more
terwyl die duisternis van gister stadig verdwyn.

Duisternis

Eensaamheid bekruip my en druk my vas in ʼn hoek
en omkring my met sy koue donker swart gal smaak.
Ek skreeu om hulp
en druk my hand die hoogtes in,
maar daar is geen antwoord.
Geen siel wat my sien
in my toegevoude gewaad van eensaamheid.
Mense beweeg stadig voor my verby
en my stem ego in die hol leegte rondom my,
raak verlore voor hulle dit kan hoor.
Ek sit hier in my hoekie van duisternis
en wag vir jou.

Verlore droom

Liefde verlore in ‘n oogwink van tyd.
‘n Tydlose omwenteling van wat verbreuk is.
Ek in my hoekie vol berou,
jy in joune vol haat.

My hart in duisende stukkies,
bloed orals oor die mure en vloer.
Ek snak ʼn laaste asem…
En my siel val dood

My liggaam beur sielloos voort deur tyd.
Harteloos,
liefdeloos,
sonder jou.

Berou, haat en liefde.
So naby mekaar maar soos ons, ver van mekaar verwyder.
Soos die een van my drome
nou net ʼn droom sal bly.

Groen kol

Ek sit en staar na die groen kol op my rekenaar
terwyl ‘n traan stadig oor my wang rol.
My gedagtes krul om jou
en druk geweldig op my gebroke hart.
Die oomblik in tyd het tot stilstand gekom
en die res van die wêreld gaan by my verby.
Ek lewe sonder tyd,
die dae nimmereindigend.
My siel verlore in die vlakte van pyn
en my brein wil nie meer.
Sara, met die groen kol langs jou naam.

Twee wêrelde

My hande in my hare.
My jas vol as.
Twee wêrelde in een dag.
Een vol sonskyn,
die ander,
koud en donker soos die nag.
Een lewe,
veelvuldige dood.
My liggaam beweeg
maar my siel is dood.
Haar oë loer nog vir my
maar leweloos lê die prent voor my.
My dag vol nag.
Die dag wat jy nie meer by my wou bly.

Sonder jou

Ek, met al die antwoorde,
stom
Ek wat altyd alles sien,
blind
Ek met die reguit denke,
dronk
Ek met my voete altyd op die grond,
verslaan
Ek wat altyd my pad vind,
verlore
Ek staan alleen
sonder jou.