Sunday, November 18, 2007

Wentelbaan

Radio Jakaranda blêr deur my verstand,
Songs waarop ons eens wou dans
terwyl my oë verlangend
na jou foto staar.

Die woorde gryp my,
draai dit in ‘n wentelbaan van herinneringe
van my, van jou,
en ons twee saam

Ons twee, soos die son en maan;
Die een se bestaan
afhanklik van die ander se glans
In die wentelbaan van die heelal se dans,

maar tog so ver verwyder
van mekaar

Al wat ek vra

Al wat ek vra...
Is liefde.
Die sagte warmte
van jou vroulikheid.
Jou sagte hand
oor my wang.
Jou kop
op my bors.
Jou hand in myne
opgekrul onder jou ken.
Jou oë
geslote in slaap
en ‘n onkeerbare glimlag
op jou gesig
en jy weet
ek weet
al wat jy vra
is liefde.

The price of love

My mouth dries up
in anticipation of your kiss
with my eyes searching yours
for that glimmer of love.
My hands are shaking and sweating
drying up the words
I would love to say
about how I feel.
My heart beats out loud
signaling my love
for you…
the one I fear to touch

And my soul
paying the price of love.

Gemaskerde girl

Woorde flits voor my verby
in en uit my foon.
Sms’e oor die verlede, vandag
en die drome van more;
Woorde van verlange,
woorde van hoop,
woorde van ‘n more
en my droom daarvan.
Gemaskerde girl
aan die ander kant;
Waarom die masker,
waarom die waansin,
waarom die geheim
om jouself so te versluier.

Fluistering van ons harte

Suidooster gaan lê; mis op Tafelberg verdwyn
vissermanne kyk na die groot blou
en verlange neem oor: ons moet uit
na die groot blou, dis die lewe
onstuimige golwe bedaar
en die groot blink lywe verskyn
land in die skuit, vir jou en my
om ons te verlustig by Snoekbraai
en ‘n glasie wyn.
Ek sit en kyk na die groot blou hemele
en verlange neem my hart; my woorde moet uit
na jou, die een in my hart
jy het die onstuimigheid in my laat bedaar
en jou groot blink oë
het liefde in my hart laat brand: vir jou en my
om ons te verlustig

in mekaar

Vensters

Ek kyk deur die venster van my lewe.
Gister,
besig om in die wasige mis te verdwyn,
en more
gevorm uit die herinneringe van gister
helder verlig deur jou
op die pad
waarop ek my vandag vind
en jy,
my Venus,
jy is langs my
besig om saam met my
te kyk deur ons venster
van die lewe.

My huis

Ek het nooit geglo
dat daar liefde daar buite is
wat net vir my wag.
Ek het liefde gesien
gevoel
en beleef
maar nie geglo.
Nou staan ek hier
met geloof in my hart
en ek is reg

om huis toe te kom.

Vervliet

Bewende hande
met die ontmoeting van ons oë
wat lank na mekaar verlang het.
Polsend en bruisend
die hart van my
in oënskou van jou,
die een wat my hart vashou
maar tog laat gaan het,
wat my gedagtes vul,
in die nag
my drome vul
en my die pad wys.
Jy, die een
wat my nou hier verby.

Vuur van liefde

Die vuur van liefde
brand diep in my hart.
Die vlam tonge lek om my verstand
en wek verlange in my hart
na jou
die een in my drome van more
wat my hart gaan verower,
my glimlag gaan laat verskyn
en my verstand gaan meesleur
in hemelse bekoring.
Kom, laat brand die vuur van liefde in my,
steel my siel
en hou hom veilig
in jou hart

Roose en drome

Die mense dink daar is ‘n pot goud
aan die einde van die reënboog,
daar ‘n silver rand is
om elke wolk
en ‘n rooi roos
nooit sy kleur verloor
maar vir my
is daar goud in jou elke glimlag,
‘n silver rand om my hart
met jou elke aanraking
en soos die roos
sal my liefde
vir jou
nooit verdof.

Ons gemaskerde boodskappe

Van agter masker en skuilnaam
lê die spore van die verlede.
‘n Foto bestaan wel
maar lyk geleen uit
die skinderblad van die huisgenoot.
Wel geletterd kan ek toeskryf aan haar,
die een wat wegkruip agter die donker lense van haar brilraam
en versigtig trippel tussen die res wat
van agter masker en skuilnaam skuil.
Party met baie woorde,
ander met min,
soms net ‘n deurmekaar gebrabbel oor
‘n gebroke hart,
verlore vriend,
ander weer oor “sex” en wel lus
en soms oor God en die natuur
van agter masker en skuilnaam gesien.
Ons versteek onself op papier,
elke woord,
elke sin,
elke vers
sodat ons hart en verstand kan versoen,
ons weer kan asem haal
en ‘n oomblik se hemelse vreugde kan beleef
van agter masker en skuilnaam

sodat ons ons boodskap
vir ander kan stuur.

Een in my drome

My gedagtes worstel met my siel,
rasionaliseer,
kritiseer,
arbitreer
en voer oorlog binne in my.

Skielik,
kalmte,
rus en vrede
terwyl ek my jeug verby
en jy, die een in my drome,

kom hou my vas,
kom hou my styf vas.

Lee oomblikke

Daai gedeelte van my wat
ek gedink het gebroke was,
daai lee broos gedeelte van my hart
was die hele tyd gevul
met liefde van jou.

Druppels

Net soos druppels water
hul weg vind
van kleine fonteine
tot die grote oseaan,
so vloei die druppels van my liefde
uit my hart,
deur my lyf,
gedagtes
en woorde
na jou.
Jy, met jou sagte oë
hou jy my hart vas,
jou glimlag
laat my gedagtes sweef,
jou sensuele vroulikheid
word weerspieël in my elke woord
en ek,
verlore in ons oseaan van liefde.

Dagbreek

Jy was my sonlig
met die breek van die dag.
Met helder pastel kleure
het jy die duisternis verdryf
en my wêreld verlig
sodat ek myself kon vind.

Nou is jy
net in die gange van my gedagtes.
My hart kon nie verstaan
hoe die son al helderder kon skyn
sonder jou
styf langs my.

My verstand lig my voet
in die voetspoor van more
en laat gister
in die skadu’s van vandag
en my oog
op die aanskoulike dagbreek.

Verlore woorde

Ek probeer woorde tik
maar hul verdwyn in tyd.
Ek probeer hul spreek
maar my tong klief my mond.
Ek probeer hul skryf
maar my pen klad net my papier.
Ek probeer gedagtes van jou vermy
maar dit laat my oë wasig

en my hart
rou.

My broederskind

My gedagtes vlug oor die heuwels.
Broederskind in twee geskeur!
Twee mense se beloftes van trou
Verander tot koue haat.
Nou staan die broederskind hier,
trane oor sy wang.
Huil oor sy pa
wat in oomblikke
vervang gaan word
met ‘n ma
in ‘n deurmekaar wêreld
wat hy glad nie kan verstaan
waar liefde vervang word
met tweespalt en haat.

Miljoen soene

‘n Miljoen soene was ek belowe
die dag op daai stoep.
sagkens in mekaar toegevou
beloof ons oë trou.

Sag het die son onder gegaan
terwyl branders om ons breek.
Die maan was sekel
en ‘n traan het gedrup en Venus se glans verbreek.

Die pad na jou hart was so mooi.
Beloftes van liefde, sonder haat,
sonder pyn,
sonder al die seer.

Nou is daar net ‘n verlange na daai miljoen soene
verlore op Stilbaai se skulpgruis sand.

My vraag

Hoe vra ek my verstand
om die beelde
van jou
weg te bere
in ‘n diep donker kloof.

Hoe vra ek my gees
om jou stem
weg te werp
na nêrens
om dit nie weer te hoor.

Hoe vra ek my siel
om jou te verlaat,
sy huis te vernietig
sonder om self
te vergaan.

Hoe vra ek myself
om jou naam te vergeet,
dit nooit weer te spreek.
Jou energie in my
te laat sterf

en soos ‘n dooie bladsy
om te blaai.

Die dag na more

Eendag
‘n woord
gebore uit gister
hoop op more
gedagtes
van ‘n man
moedeloos verlief
sy droom...
dog realiteit
woorde
eens gespreek oor vrese,
die goeie
en oor eendag
die dag na more.

Lug leegte.

Daai leemte in tyd
waar klank verdwyn
en my traan doelloos deur die lug sweef
tot die volgende teug hemel.

Stilbaai se branders

Branders breek bonsend en bruisend
oor die wit skulp strand
reg voor die stoep
waar ek is.

Ons oë, vol van liefde.
Lywe, warm teen mekaar.
Elk met ‘n glas wyn;
Daar vind ons oë mekaar.

Nou lê my hart verlore
hier tussen die skulp gruis
en ek gryp naarstigtelik
na al die stukkies herinneringe

met elke vee van water
oor die skulp bedekte strand.

My winter stoep

Ek sit hier op my winter stoep.
Die somer son bak op my neer,
maar my lyf bly koud.
My siel bibber in die skroeiende somer son.
Tyd vat my hand,
loop vorentoe,
dan agteruit,
na dit wat moet kom,
en dit wat was...
Terug na daardie dag
van my groot val.
Of was dit nou die dag
van my groot opstaan.
My rebellie teen tyd.
Die dag wat alles gaan stil staan het.
My hart wil net weg hardloop,
maar my lyf sê bly.
Ek sit hier op my winter stoep.
Die somer son bak op my neer.
My lyf wil opstaan
maar die koue in my siel...
druk my weer neer.

Liefde verenig

“Liefde”.
Dis net ‘n woord,
‘n gevoel,
‘n gedagte
wat ek gedink het
my hart,
en my verstand,
in wese verstaan.
Ek was verdwaas,
absoluut stom geslaan
die dag;
Die dag wat jy
voor my hart se deur staan.
Vuis in die lug,
kloppend aan die deur.
Jou jeug
het my meegesleur.
Jou oë
het my gedagtes gevang.
Jou sagtheid
het my hart verower
en jou warme aanraking
het die woord “liefde”,
die gedagte,
die gevoel,
verewig...
met my hart
verenig.

My wish

I wish
I was the perfume on your skin,
then I could linger with you
all day long.

I wish
I was the clothes on your body,
then I could be close to you
all the time.

I wish
I was the shoes on your feet,
then I could take every step of life
with you.

I wish I was there
with you.

Lig van Liefde

Daai donker gedeelte van my hart.
Daar waar ek gedink het
die lig van liefde
nooit weer gaan skyn.

Daar staan jy in die skemering.
Geel bruin oë wat vir my kyk.
Ek raak jou wang
en jou liefde gloei deur my.

Jou liefde verwarm my,
skiet deur my siel,
bevredig my gees
en skyn uit my lyf.

Jy, my engelsman.
Die liefde van my,
sal verewig,
net vir jou...

Uit my hart skyn.

My Angle

As I lay here,
waiting to close my eye’s
at the end of day.
I lay wondering;
Will you still be here tomorrow,
and the tomorrows that will follow?
Will you hold me as the sun sets
and love me for each sun rise?
Has God send me
His most beautiful angle?
His price possession,
To take my hand,
to guide me…
Till the end of my time.

Jou stimulus

Jy,
het my voet laat stilstaan.
My gedagtes doel gegee;
om aan jou te dink.
My hart het ritmies begin dans
in die ou borskas van my.
Die donker duister verlede,
soos nuut,
in die stof laat verdwyn.
My siel het opgestaan,
begin sweef op die vlerke van liefde,
die liefde wat ek aan jou bely.
My gees het tot rus gekom,
neergedaal tot in my lyf.
Ek,
ek het jou aangeraak
en jy het die duisternis verdryf.
Lig op my pad geplaas.
Jou hand gelig
en my wang met jou hand geraak,
en ek het geweet,
daar in sig van jou oë
is waar ek eendag...

My lewe wil sluit.

Siamese tweeling

Twee lewens,
een lyf.
Eerste verjaarsdag
in hospitaal verblyf.
Twee koppe bymekaar,
maar gesiggies
weg van mekaar gedryf.
Jul voel mekaar,
een gevat aan die ander.
Die ander se stem gehoor.
Woorde gefluister;
Hoekom het God ons koppe
so aan mekaar gepleister.
Moet die een se siel dan sterf
vir die ander om te bly leef.
Moet die een vergaan
vir die ander om voort te bestaan,
of gaan jul twee,
hand aan hand...
die lewe beleef.

Liefdesgedig

Jou oë,
laat my in liefde glo.
Jou woorde,
laat my in liefde leef.
Jou warme sagte aanraking,
laat my liefde voel.
Jou lyf,
het my liefde gewys.
My oë,
het jou liefde gesien.
My woorde,
laat liefde op papier leef.
My warme sagte aanraking,
laat jou liefde beleef.
My lyf,
laat jou op die energie van liefde sweef.

Nou klop ek aan jou deur,
veldblom in die hand
en wag...
om dit weer en weer oor te beleef.

My hart se muur

Broos pienk lê die horison voor my.
Bevry van die ondergaande son.
Koel waai die nagwind,
verkoel die Chardonnay in my hand
tot perfekte temperatuur.
Stadig begin die aand ster blink
in die grys verdonkerende hemelruim.
Stadig vervlam die vuur op my stoep
en lek my met sy stille warme hitte.
Gedagtes begin sweef...
Ek sien weer die blou blou van jou oë,
ruik die soet aroma van jou vel,
voel jou hand op my wang
en ek hoor weer jou verwoording van my naam.
Stadig daal ‘n kalme rustigheid oor my.
Bevry my van die warboel van die dag.
My oë glinster weer deur die lekkende lag van die vuur
en my liggaam verwarm
weens liefde gegriffel
teen my hart se muur.

Vanaand

Ek het jou nodig.
Hier by my,
vanaand.
Geen beloftes van ‘n more,
net hierdie oomblik,
ek en jy.
My blik in jou oë,
jou hand in myne,
my liefde gesien deur jou oë,
jou hitte teen my lyf.
Oomblikke van vreugde.
Oomblikke van vrede.
Oomblikke saam met jou.

Dans van die flamink

Pronkend trots, staan die flamink en dans.
Lang nek swaaiend in die wind.
Dan, kop onderste bo
die water in...
Vere, sneeu wit tot flambojant pienk,
dans hul die rooibeen, langbeen dans.
Die mens
wil die pienk van sy veer
op die alg Spirulina blameer.
Geel brand vulkaniese vuur
diep binne-in sy oë,
geel brand die vurige Phoenix
diep in sy hart:
so word deur oorlewering beweer.
Met vier van jou spesie oor,
gaan ons jul
soos die Dodo verloor?
Gaan ons kinders se kinders
jul dans
slegs in boek of museum...

kan beleef?

Pad na liefde

Kom, gee liefde ‘n kans,
nog een kans om in liefde te lewe.
Een dag op ‘n keer
leef ons verby die seer.
Ek gee ‘n bietjie van my tyd vir jou,
en jy gee ‘n bietjie van jou tyd vir my.
Ek gee ‘n bietjie van myself vir jou,
en jy gee ‘n bietjie van jouself vir my.
Ek gee my liefde vir jou,
en jy gee jou liefde vir my.
Kom ons gee liefde ‘n kans.
Kom vat my hand.
Kom ons loop die pad
van liefde saam.

Pokkel gesig woelwater

‘n Pokkel gesiggie glimlag vir my.
Klein woelwater, wikkelend, waaiend,
beduie sy iets vir my,
te klein om ‘n woord te sê.
Krulkop met Yuppie bril.
Skouer hangend, traan oor haar wang,
sit haar Ma.
Oë te moeg om die storie te vertel,
maar die bord agter haar
het amper my glimlag gesteel;
“Walter Sisulu Paediatric Cardiac Centre of Africa”.
Ek vra myself,
waar gaan die pokkel gesig woelwater...
se lewe eindig.

My Vraag

Hoe vra ek jou
om my hand te vat,
my te help met die geveg
teen die donker in my.

Hoe vra ek jou..
Om my in die lig te ly,
na daar waar ek nimmer eindigend glimlag
saam met jou.

Hoe vra ek jou...
Om vir my kwaad te wees,
op my te gil en skreeu
as ek afwyk van die vaste wee van ons twee

Hoe vra ek jou....
Om deel van my te wees,
met soveel afstand
tussen ons twee

Hoe vra ek my hart
om jou weg te werp
in die diep donker blou see
en jou verewig weg te sleur.

Hoe vra ek my verstand
om jou beeld en klank
weg te bêre
in ‘n diep versteekte bres

Hoe vra ek my gees
om joune te verlaat,
as hy jou sien
as my enigste lewensmaat

Hoe vra ek myself
om jou naam te vergeet.
Jou energie te laat ophou leef
en als van jou

soos ‘n dooie bladsy om te blaai
en te vergeet.

My verweer

My liggaam is in opstand.
My hart sit met beitel in die hand,
probeer naarstigtelik uit my bors uitbreek.
My brein probeer keer
maar gedagtes aan jou
stop hom in sy spore.
Die twee so aanvallig
dat ek dit self nie meer kan weerstaan.
Ek onthou elke kurwe op jou lyf.
Van die fyn plooitjies langs jou oë,
teen jou elegante nek af,
verby die uitlokkende draai van jou naeltjie
tot by die krul van jou kleintoontjie.
Die warmte van jou lyf teen myne
en die warme vervulling om my.
Ek kom tot stilstand.
Hoe kan ek my hart en brein keer
as ek self wil uitbreek
na jou.

Die dag

Die dag wat my mond
nie meer jou naam kan spreek.
Die dag wat my ore
nie die klank van jou stem onthou.
Die dag wat my neus
die reuk van jou vel vergeet.
Die dag wat my lyf
die hitte van jou verloor.
Die dag wat my vel
jou sagte vat verweer.
Die dag wat my oë
die blou in joune laat gaan.
Die dag wat gedagtes
van jou vergaan.
Die dag wat my hart
my liefde vir jou laat gaan.
Dit is die dag
van die einde van my bestaan.

Venus met die sekel maan op tou.

Ek sien Venus
met die sekelmaan op tou,
en vir ‘n oomblik,
ja, net ‘n oomblik,
het die godin van liefde
my gedagtes daar by jou.
O my Liefde, die liefde van my,
waar skuil jy vanaand?
In die donker deel van die maan
of loer jy skelm om die rand?
Ry jy op die rug van die verskietende ster
of sit jy iewers weggekruip in die melkweg,
so mooi daar ver?
Hier op moeder aarde sit ek,
en ek kyk vir Venus
met die sekel maan op tou,
En my hele wese wens
Ek is daar by jou.

Rekenaar Predikasie

Rekenaar predikasies
lê swart op wit
op my skerm
in die donker sluier van die nag.

Die oggendster roep my,
saggies,
fluisterend.
Kom kyk na die opkoms van die son!

‘n Stralekrans breuk oor die horison
in ‘n kaleidoskoop van duisende kleure,
oomblikke net voor
die verskyning van die son.

Die winter son is koud op my lyf
En ek asem ‘n koue teug lug.
‘n Warm winter wit wasem verlaat my lyf
en verdwyn doelloos in die son.

En Ek weet...
Ek is hier.

My Blom

Blom gepluk in my hand.
Hoe admireer ek die dooie plant,
lig blou,
blomme fyn.
Gepluk vir jou,
net so ‘n ietsie van my.
Ek hang die blom aan my deur.
Die deur na die kamer van my hart.
Hier waar ek is,
hier waar ek wegkruip,
hier waar ek wag
vir jou klop aan my deur.
Vat my blom.
Vat my seer.
Hou my vas.
Laat my leef.

Woes.co.za

Donkiedans se pen
galop oor die blad,
Kamikazi gryp hom vas
en ry sy pen bloots.
Eva se dogter verly hul
met haar literêre naaktheid
en Blonnekopkind duik saam met Skuba
deur die inkpot.
Leo(wyfie) brul en grom op die agtergrond
en Johanna,
ja Johanna, die pilaar vir almal.
Kort graffiti, so vlyend van Annelie
en dan Jacolette,
so verleidend met haar pen.
Daar is te veel om te noem,
maar ons almal
is opsoek na daai klein bietjie aandag
en ‘n oomblik se roem.

My hoop

Slierte hare voor haar gesig,
weerbarstig die glimlag,
uitlokkend die oë,
dapper die wyn in my glas.

Drome verspoel in die sand,
golwe breek en bars,
was oor my
en die sand krap my stukkend.

Gister gebêre in die holte van my hart.
Vasgehaak aan die pendulum van tyd,
arrogant swaaiend voor my
dryf tyd verby.

Vandag, die droom gebore uit gister,
‘n glimlag sonder pyn,
oë sonder gister se rooi
en hoop.

Hoop dat iemand daar sal wees om my te vang
wanneer ek val sonder vlerke,
wind in my hare
en haar liefde in my hart.