Saturday, May 5, 2007

My stoep

Ek het geloop in jou son.
Jou warmte het my aangeraak,
geloop in jou goue lig,
geleef op hoop en geloof
in jou.
Ek het gefloreer
van een soete aanraking
na die volgende van ekstase.
Jou woorde
het my siel gevoed,
my krag gegee
vir die eerste tree
met my nuwe voet.
Jou liefde het my laat oprys,
my vingers het die hemele aangeraak,
die skoonheid het my oë begroet
en die nektar in my beker
het my dors gestil.
Nou sit ek hier op my stoep,
my kop in die hemele
en uitstaar oor die uitspansel
terwyl die son onder gaan,
en ek wonder...
Mis jy my ook?

Derde keer

Ek het die haan drie keer hoor kraai
en ek het drie keer in jou voorhuis gedraai.
Ek het drie keer in jou oë gekyk
en ek het drie keer my lewe saam met jou bekyk.
Ek het drie keer aan jou hand gevat
en jy het drie keer aan my wang gevat.
Ek het jou my drie keer op die pad laat ly
en ek het drie keer gevoel...dis Jy.
Ek het drie keer van buite terug gekyk
en ek het drie keer jou nie verwyt.
Ek het drie keer na jou foto gestaar
en drie keer het hierdie breek my verwar.
Daar vloei nou vir die derde keer
‘n traan oor een man se wang.

My verf doek

Donker hare onring die prent,
fluweel sag die vel op die doek.
Die lippe,
skarlaken rooi getooi.
Vraende oë wat na my staar
met duisende vrae om te vrae.
Is jy die een in my droom?
Die een wat haar sagte hand
plaas op my wang?
My hand vat
en my ly...
Na die plek,
wat ons huis kan noem.

Holte van my hart

Daar waar die son nie skyn,
daai doodse koue kol.
Die holte waar jy was
in die lig gevulde kamer van my hart.
Bloed vloei nie meer daar,
my siel skuur stadig daar verby,
en my gees...
My gees verwens die kol.
Klein stukkies lig
hang daar in
en flikker soos die melkweg
diep uit die swart leegte.
Daar waar die son nie skyn

Karkaste van liefde verlore

‘n Spinnekop web in ‘n hoek.
Verlore,
verlate,
vol stof.
Selfs die spinnekop het gevlug.
Kil karkaste van liefde verlore
Drapeer in die web.
‘n Silwer blink druppel
Val na benede
En breek skerwend oop.
Daar is ‘n stad,
geboue,
strate,
‘n ander persoon.
‘n Herinnering...uit liefde verlore.

Weerkaatsing van jou son

Reën druppels worstel teen my ruit,
verloor hul greep
en gly jubelend
na benede.

‘n Traan vorm in my oog,
Worstel homself uit die hoek van my oog,
gly stadig na benede
en verdwyn in ‘n blink streep.

Nat is my ruit,
skoon gewas uit my siel.
Nat is my lyf,
skoon gewas uit die genade van Bo.

Een uit die hemele,
een uit my siel.
Die een, genade van ‘n Godheid.
Die ander...vertroosting vir ‘n gebroke siel.

Nou sit ek hier
en ek sien vir ‘n oomblik
die wêreld deur die reënboog van my jeug
terwyl ek kaalvoet dans...
In die weerkaatsing van jou son.

Liefde op die wind

Berge, dale, riviere en ‘n see
lê tussen ons twee.
Ek stuur ‘n soen op die wind
en hoop dat hy jou daar sal vind.
My gedagtes sweef oor die melkweg,
ontmoet jou daar
en ek weet jy is ook hier...
By my.
My oë val toe
en ek voel jou kop op my bors,
jou arm oor my lyf
en ek weet
my soen het jou gevind
op sy lang pad deur die wind
tot reg daar...
Waar jy jouself nou bevind.

Een wêreld

Ek en Jy.
Ja, ons twee,
van verskillende plekke,
twee alleen wêrelde
in die omwenteling van tyd
Ons oë ontmoet.
Ons woorde streel
en ons vlees...
Ons vlees word een in Gees.
Wêrelde verander om ons,
plekke word vreemd.
Alles verander,
soos ons...
Word dit alles een.

Gister, vandag en more

Gister se spore,
reeds verlore die wind.
Vandag se spore
lê vars in my verstand,
en more se spore...
Waar ek myself nog moet vind.
Ek sit my hand op die wang van gister.
‘n Traan van vreugde
spoel oor my hart
en druk my voet
in die spore van vandag.
My lyf beur voort in tyd.
Jou vinger punte in my hand
en ek weet,
Ja, ek weet,
waar ek myself more wil vind.

Daar by jou

Lig skeur die horison,
versteur die nag.
Mense begin beweeg,
stomp vir die dag.
My lyf ontmoet die dagbreek.
Wolke begroet die son,
verlig in ‘n kleur spel,
pastel blou, oranje en pienk.
Voëls rys op in die lug,
sweef deur die strale krans,
en jubel hul lofsange.
En ek.
Ek lê hier en wonder.
Is als ook so mooi...
Daar by jou.

Liefde in my hand

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Sigeuner vrou.
Haar geheimsinnige spel
het my voor haar voete neer gevel.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Viking vrou.
Met klein fyn atome
het sy ‘n lewe vir my gebou.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Skatlike vrou.
Deur jou oë
het jou woorde my gevind.

Ek hou liefde in my hand.
Sara, die Standvastige vrou.
Jy het my hand gevat
na die pad waarop ek myself moes vind.

Ek hou liefde in my hand
Sara, die Griekse godin.
Wees die vrou langs my lyf.
Liefde soos die is bitter skaars om te vind.

Ek hou liefde in my hand.
Sara,
so sag,
so broos,
so fyn.

My fotoraam

My woorde stom.
Hul ontwyk my.
Die melaatsheid van my siel,
die seer op my lyf.
Jou oë deurboor my gedagtes.
Daai glimlag vertroos my siel,
stille soete aanraking.
Jy het my hart laat kniel,
ek loop die spore oor...
Klam nat sand,
rotse by die see,
die stoep voor die awend maal,
daar,
ja daar het ek my hart vir jou gegee.
Maar my woorde is nou stom,
hul ontwyk my gees.
My beker bly leeg,
Sonder jou...
Soos die foto in my raam,
so sal ek vir altyd by jou wees.